Video
HEIDELBERG NUUS EN VIDEO - Groot drama het Dinsdagoggend, 30 November by Kairos Senior Sekondêre skool in Heidelberg afgespeel na die ouers en skoolbeheerliggaam die hekke gesluit het.
Dit volg op jarelange versoeke om die skool ook 'n nie-fooi skool te maak.
Na kort samesprekings tussen Mias du Plessis, WKOD-kringbestuurder, kring 1 en die beheerliggaam onder leiding van die voorsitter, Conrad Saayman is besluit om die leerders wat eksamen moet skryf, asook die personeel tot die perseel toe te laat.
Volgens Saayman het Du Plessis hulle meegedeel dat Kairos se aansoek hoog op die WKOD se agenda is en dat dit wel aandag geniet.
Hy het egter toegegee dat daar dalk 'n miskommunikasie kon wees dat daar nie behoorlike terugvoering aan die beheerliggaam verskaf is nie.
Die leerders is toegelaat om te gaan skryf, terwyl Du Plessis verder samesprekings met die beheerliggaam gevoer het.
Bronagh Hammond, woordvoerder vir die WKOD se kantoor was nie vir kommentaar beskikbaar nie.
Video: Beheerliggaam sluit skool se hekke
Twee onderwysers merk vraestelle terwyl Mias du Plessis met die beheerliggaam buite die skool onderhandel. Foto's: Clive Pretorius
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'