RIVERSDAL NUUS - Verskeie klagtes van vandalisme is gedurende die afgelope feesseisoen ontvang en soos telkemale in die verlede oor berig, ook van grafte in Riversdal se begraafplaas.
En dit is nie slegs die ou en historiese begraafplase wat deurloop nie, maar ook die nuwe. Grafstene is omgegooi en blompotte is gebreek en rondgestrooi.
By navraag aan Hessequa-munisipaliteit het die waarnemende munisipale bestuurder, Hendrik Visser gesê hy veroordeel hierdie kwaadwillige optrede ten sterkste.
"Die beskadiging van grafstene is skokkend.
"Die munisipaliteit ervaar tans 'n geweldige probleem met vandalisme, ook by ander openbare fasiliteite soos sportgronde, speelparke en ablusie fasiliteite."
Om die probleem van vandalisme by begraafplase aan te spreek, word nuwe omheinings opgerig om vandale uit te hou. Die omheining word egter stukkend geknip en selfs die hekke se slotte word afgeknip.
"Vandalisme, inbrake en diefstal veroorsaak addisionele uitgawes om die infrastruktuur te herstel en te vervang, wat onnodige druk op die munisipaliteit se finansies plaas wat aan die einde van die dag van die belastingbetaler verhaal moet word," het hy benadruk.
"Ons is tans besig om die moontlikheid vir die plasing van sekuriteitskameras te ondersoek, maar doen intussen 'n beroep op die gemeenskap om voorvalle van vandalisme onmiddellik by die polisie en munisipaliteit aan te meld sodat oortreders vervolg kan word. Slegs deur die samewerking van die gemeenskap, buurtwagte en gereelde patrollies deur wetstoepassing en die polisie sal hierdie tendens hokgeslaan kan word."
Vandalisme is 'n misdaad, hetsy dit die skending van 'n graf of die beskadiging van eiendom is.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'