RIVERSDAL NUUS - Vandalisme by begraafplase is steeds 'n groot probleem.
Hoewel 'n groot deel van die begraafplaas langs die N2 omhein is, keer dit nie vandale om grafstene om te stamp en blomme van grafte af te steel nie.
'n Inwoner wie se dogter in dié begraafplaas begrawe is, vertel dat haar graf keer op keer beskadig word.
"Dit krap elke keer ou wonde oop. Ek besoek reeds met groot hartseer my kind se graf en dan wag so 'n skok ook nog op my. Dit maak so seer om te sien dat mense nie eens vir die dood respek het nie."
Sy en haar seun het al blompotjies met sement op die dogter se graf gemonteer. Ten spyte daarvan word dit afgebreek, blomme word afgeknip en selfs bokke, beeste en skape vreet aan die blomme en vertrap die grafte. Dit lyk of bierbottels teen grafte stukkend gegooi word omdat daar oral glasstukke en bottelnekke bo-op grafstene lê.
Volgens Johan Jacobs, munisipale bestuurder van Hessequa-munisipaliteit, betreur die munisipaliteit die beskadiging van begraafplase. "Hessequa-wetstoepassers patrolleer gereeld die begraafplase om persone wat doelloos vertoef aan te spreek. Die munisipaliteit het die nodige inspeksie ten opsigte van die vandalisme by die begraafplaas naby Kwanokuthula gedoen."
Hy voeg by dat die volgende regstellende aksie op die tegniese skedule geplaas is en in die volgende maand uitgevoer sal word. Paadjies tussen grafte is reeds skoon en netjies gemaak. Nog 'n probleem is mense wat rommel in en om die begraafplaas strooi.
- Nuwe omheiningstutte sal geïnstalleer word waar die oorspronklike stutte losgekap, uitgebreek en weggedra is. Sodra die installasie van die stutte voltooi is, sal nuwe omheiningspale geplant en draad gespan word.
- Die onkruid in die begraafplaas sal met gif gespuit en verwyder word, terwyl die algemene netheid opgeskerp sal word.
"Begraafplase in die Hessequa-streek word baie vinnig verniel en die grootste probleem kom nou by die begraafplase langs die N2 en Kwanokuthula voor.
Lede van die gemeenskap word versoek om enige inligting rakende vernielsug aan te meld sodat die saak verder ondersoek kan word.
Die sinlose beskadiging van enige openbare bate is 'n groot kommer omdat die herstelwerk 'n onnodige las op die belastingbetaler plaas."
'n Dringende beroep word op die gemeenskap gedoen om vandalisme aan te meld. Skakel 028 713 8000 of stuur 'n e-pos na info@hessequa.gov.za.
Blompotjies op die grafte word gebreek.
Gebreekte glasbottels lê oral op grafte.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'