STILBAAI NUUS - Badisa is die barmhartigheidsbediening van die Nederduits-Gereformeerde Kerk (Wes-Kaap) en die Verenigde Gereformeerde Kerk (Kaapland).
In samewerking met verskeie geloofsgemeenskappe en ander rolspelers word professionele ondersteuning en dienste volgens behoefte aan mense en gemeenskappe in nood aangebied.
Jacob van Wyk is onlangs aangestel as hoof- uitvoerende beampte van hierdie organisasie wat dienste bied deur middel van 155 programme - waarvan Badisa in Stilbaai een is.
Van Wyk het tydens sy besoek genoem dat Badisa in Stilbaai as die "vlagskipprogram" in die groter Badisa-familie gesien word.
Hy is ingelig oor die bedrywighede van Badisa in die kusdorp en hy het die pragtige nuwe kantoor besigtig wat deur die NGK-gemeente in Stilbaai beskikbaar gestel is.
'n Besoek aan die Badisa-winkel, Baaija vir Biekie, en Ouma Lena se Huis waar onder meer die Seesterretjie-kleuterskool gehuisves word, het groot waardering van sy kant ontlok.
Dienslewering van uitstaande kwaliteit is slegs moontlik deur die toewyding van kundige personeel en 'n betrokke gemeenskap. En dis iets wat Stilbaai se inwoners al reeds 'n geruime tyd bewys deur mense in nood te help.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’