Update
HESSEQUA NUUS - Die afgelope feesseisoen se Kersliggies is lankal uitgedoof, maar vir die ANC-komponent van die Hessequa-munisipale raad sal befondsing daarvoor lank as verdag bly flikker.
Uitvoerende burgemeester, Grant Riddles het tydens die Desember spesiale raadsvergadering aangekondig dat R100 000 deur die munisipaliteit bewillig is om Kersliggies by Stilbaai se ingang en omgewing aan te bring.
Riddles het die raad die versekering gegee dat geen noodsaaklike projekte se befondsing besnoei word vir die aanbring van die liggies nie.
"Ons gebruik die geld wat bewillig is om matte in die munisipaliteit se kantore aan te lê. "Ons het deur so donker tyd gekom," het hy as motivering aangevoer. Riddles het ook gesê Hessequa bestaan nie net uit een dorp nie. "Ons is almal een munisipaliteit."
Die kleur van die flikkerende Kersliggies het ANC-raadslid Chris Taute nie veel aangestaan met die aankondiging nie, maar hy het wel rooi in sy kommentaar gesien.
"Die burgemeester sê daar is nie net een dorp nie," het hy sy kommentaar begin.
Hy wou weet wat van Albertinia, Heidelberg en Slangrivier as dit by die versiering met Kersliggies begin.
"Ek stem nie saam dat so baie geld gespandeer moet word om Kersliggies in Stilbaai op te sit nie," het hy sy kommentaar kort en saaklik afgesluit.
Speaker Andrew Stroebel het die item op die agenda kortgeknip en die liggies het Kersfees op Stilbaai gebrand.
Vorige artikel: ANC sien rooi oor kersliggies
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'