NASIONALE NUUS - Sowat 10 000 veldwerkers sal blykbaar hierdie week ontplooi word om alle inwoners vir Covid-19 te toets om die verspreiding daarvan te keer.
President Cyril Ramaphosa het Maandag 30 Maart gesê die stryd teen die koronavirus, wat reeds 1 353 mense in Suid-Afrika besmet en die dood van vyf veroorsaak het, betree nou 'n nuwe fase.
Die span veldwerkers sal nedersettings, dorpe en stede besoek om vas te stel wie simptome van die virus toon.
Hulle sal na klinieke of mobiele klinieke vir toetsing verwys word en indien besmet, by die huis of by plekke van afsondering wat in elke streek aangewys is, in afsondering geplaas word. Diegene met ernstige simptome sal in die hospitaal opgeneem word. Die span sal ook vasstel met wie die besmette persoon in aanraking was en hulle opspoor.
Bly tuis
Die president het almal opnuut gemaan om tuis te bly. "Diegene wat hul huise verlaat moet alles in hul vermoë doen om te verseker hulle word nie besmet of die virus aan ander oordra nie."
Hy het gesê mense verkeer onder 'n wanindruk dat hulle nie deur die virus besmet kan word nie. "Die gevaar is werklik - moenie die fout maak om te dink dis iemand anders se probleem nie. Elke keer wat jy die regulasies oortree of probeer omseil, plaas jy jouself en ander in gevaar en help jy om die virus te versprei."
- Teen Maandag was reeds nege mense in Riversdal, 22 in Albertinia en nog 22 op Heidelberg met R400 beboet omdat hulle die inperkingsvereistes geïgnoreer het.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'