Gallery Update Video
RIVERSDAL NUUS EN VIDEO - 'n Groep motorfietsryers, die 911-Riders, wat van die Kaap na KwaZulu-Natal onderweg is het Saterdag 7 April 'n draai by Riversdal-polisiestasie gemaak.
Past. TJ Mare wat die groep lei sê: "Ons doel is om waardering te wys vir die goeie werk wat die plaaslike polisie doen om die plaasgemeenskap veilig te hou."
Deel van die skare en een van die sprekers was Danie Crafford. Hy is een van die eerste boere wat deur 'n plaasaanval in die Suid-Kaap geraak is. Hy het die groep bedank dat hulle besluit het om die toer mee te maak en gesê: "'n Mens voel bitter alleen wanneer so iets gebeur.
"Al was en kan julle nie daar wees wanneer so iets gebeur nie, weet jy ten minste dat daar mense is wat jou sal bystaan."
'n Emosionele Mare het 'n bruin strikkie aan Crafford se bors gesteek wat 'n simbool is vir persone wat 'n slagoffer van 'n plaasaanval was.
Die manne staan nie net saam nie, hulle bid ook saam. A.o. Neels Oosthuizen, sers. Christopher le Roux, Phillip Wilken, past. TJ Mare, Danie Crafford en Petrus Pieterson by die ingang van Riversdal-polisiestasie.
Mare het tussen die trane deur vertel dat dit altyd hartseer is om so 'n strikkie vir iemand te moet gee. A.o. Neels Oosthuizen en lede van die gemeenskapsforum vir landelike veiligheid het die groep by die polisiestasie ontvang.
Kyk 'n video hieronder:
Oosthuizen het ontvangs van 'n memorandum geteken en Mare bedank vir hul inisiatief.
Die volgende polisiestasie wat hulle besoek het was Albertinia waarna hulle na Mosselbaai sou reis.
Vir meer inligting stuur 'n e-pos na:911rides@brafm.co.za
Lees die volledige memorandum hier.
Lees 'n vorige artikel: Toer teen plaasmoorde
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'