STILBAAI NUUS - Die 25-jarige Aléna Muir van Stilbaai leef haar droom uit in New York, maar haar hart lê nog steeds knussies skuins bokant die hawe.
Aléna, dogter van John en Tine-Mari Muir, was in gr. 1 en 2 by Laerskool Bertie Barnard. Haar ouers het haar egter toe na Laerskool Volschenk in Riversdal gestuur omdat hulle kon sien dat sy baie kunssinnig is en dat sy daar klavierlesse kon neem en dramaklasse kon bywoon.
Juffrou Pottie het haar in drama onderrig wat haar lewe verander het. Aléna se pa is oorlede toe sy in gr. 4 was en juffrou Pottie het haar onder haar vlerk geneem en in die wêreld van dramatiese kunste ingesleep.
Op daardie stadium wou sy nog met alle mag 'n aktrise word. Iemand soos Meryl Streep.
Ná haar laerskool jare is sy na Hoërskool Outeniqua in George omdat hulle daar drama- en fotografieklasse aangebied het. Sy het in die koshuis gebly en dis daar in George dat sy besluit het dat film en skryf haar toekomspad gaan wees.
In 2016 het Aléna by die Universiteit van Kaapstad ingeskryf vir haar BA in filmproduksie. In haar derde jaar was sy die skrywer, vervaardiger en regisseur van haar tesisfilm, Sonrotse. Marguerite van Eeden, bekende Suid-Afrikaanse aktrise, was in die hoofrol.
Die film is gekies vir 'n studente filmfees in Kanada asook feeste in New York en Kaapstad.
Sy doen haar honneurs in draaiboekskryf by die UK in 2019 en daarna vat sy 'n kans en doen aansoek vir haar meestersgraad by Sarah Lawrence College in New York. Met die swak rand en Covid het sy nie gedink dit gaan ooit uitwerk nie, maar haar ma het ander planne gehad. Sy het besluit dat sy dit sal maak werk. Die kursus moes in Augustus 2020 begin, maar met Covid is dit uitgestel tot Januarie 2021.
Januarie is Aléna weg New York toe en haar blyplek was 'n solderkamer sonder vensters, al wat sy kon bekostig. Die eerste ses maande was hel. Dit was Covid, winter en sneeu. Sonder familie of veel vriende, alleen in die vreemde.
Dit het later beter gegaan met die son wat bietjie uitkom, 'n nuwe werk op kampus, inentings teen die pandemie en mense wat bietjie uitkom.
Skrywers soos Jo-Ann Beard, Jacob Sclichter en ander groot skrywers het vir haar klas gegee en by hulle het sy ontsettend baie geleer.
Teen die einde van 2022 het sy haar 'Master of Fine Arts in Creative Writing' verwerf en vandaar het sy al twee opstelle gepubliseer. Een in die letterkundige joernaal, The Pinch en Roxane Gay het ook een van haar opstelle gepubliseer op haar webblad se Emerging Writers Series.
Aléna wil graag 'n boek met 'n versameling van haar opstelle publiseer en dan wil sy ook baie graag die draaiboek vir 'n film in die lyn van Legally Blonde die lig laat sien.
Sy is vir nou in die VSA gevestig, maar sal nooit Suid-Afrika versaak nie. Haar liefde vir haar vaderland kom duidelik na vore in haar skryfwerk en sy sal tussen die twee lande pendel en werk indien moontlik.
Hou gerus die naam Aléna Muir dop. Hierdie Stilbaai-boorling weet wat sy uit die lewe wil hê.
Aléna Muir op die Brooklyn-brug in New York.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’