ALBERTINIA NUUS - Vanaf 15 Desember tot 6 Januarie was dit behoorlik 'n miernes van bedrywighede by die parkie by Engen-vulstasie.
Die eienaar van die vulstasie, Boy van Rensburg het die tuingedeelte kosteloos aan entrepreneurs van die dorp beskikbaar gestel om hulle produkte aan reisigers te koop aan te bied.
Houtwerk, ingelegde produkte, ander handgemaakte items, asook wyn, bier, kaas, boerewors en gin is geproe terwyl Johan van Rensburg besoekers met musiek vermaak het.
Volgens Van Rensburg was dit 'n reusesukses, maar is daar nog baie ruimte vir beter prestasie.
"Die plan is om weer so 'n geleentheid te skep oor lang naweke, kort vakansies en die feesgety."
Hy beskou dit as 'n deel van sy beskeie bydrae tot die plaaslike ekonomiese ontwikkeling, wat ook ten doel het om reisigers te oortuig om die dorpe in die Hessequa-streek te besoek.
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'