Update
TUINROETE NUUS - Die Albertinia-man wat daarvan aangekla was dat hy twee klein dogtertjies, Jacorene Vaaltyn (9) en Sharron Arries (10) in September 2022 in sy huis in Janfiskaalstraat vermoor het, is vanoggend in die rondgaande hooggeregshof in George skuldig bevind.
Regter Matthew Francis het Timothy Ova (54) op al vyf die aanklagte, twee van moord, een van dwarsboming van die gereg, een van die onwettige besit van ammunisie en een van onsedelike aanranding wat spruit uit 'n 1999-voorval, skuldig bevind.
Hy word in alle waarskynlikheid eerskomende Vrydag gevonnis.
Ova het deurlopend gedurende sy getuienis sy onskuld betuig.
Beide dogtertjies het versmoor en daar is fyn sand in hul lugweë, neuse en monde gevind wat daarop dui dat die kinders die sand ingeasem het.
Die kinders se lyke is op Donderdag 22 September 2022 in Ova se huis gevind ná hulle die vorige dag as vermis aangemeld is.
Jacorene se liggaam is in die gat onder Ova se bed gevind en Sharon s'n in 'n blou plastiekdrom. Albei was in lakens toegebind.
Die Donderdag was daar talle mense, insluitende plaaslike polisielede, by Ova se huis wat hom oor die kinders uitgevra het. Hy het volgehou dat hy nie geweet het waar hulle was nie.
Die dogtertjies se lyke is later die Donderdag gevind waarna Ova probeer vlug het. Hy is die volgende dag in Albertinia in hegtenis geneem.
Ova word deur adv. Flip Theron verteenwoordig en adv. Lenro Badenhorst is vir die staat.
Die ondersoekbeampte in die saak is ao. Alistair Rezant van die Mosselbaai se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe.
Vorige artikels:
- Albertinia murder case: Closing arguments finalised
- Beskuldigde ontken skuld
- Kindermoord: Albertinia-dogtertjies het versmoor
- Albertinia kindermoord: Dogtertjie se pa getuig
- Kindermoord: Beskuldigde pleit onskuldig
- Verhoor van vermoorde Albertinia meisies begin
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’