Update
ALBERTINIA NUUS - Inwoners van Albertinia, in die omgewing van Hoof- en Malanstraat het self ingespring om 'n enorme slaggat op die kruising van die twee strate te herstel.
Een van die inwoners het gesê die verswakte gedeelte van die pad het oor 'n lang tydperk vererger en water dam daarin op.
"Die moontlikheid van ongelukke en beserings kan nie uitgesluit word nie en inwoners het al so ver gegaan om dit self te begin herstel."
Hessequa-munisipaliteit het gesê dat hulle van die probleem bewus is, hoewel geen klagtes by die munisipale kantoor aangemeld is nie. "Die munisipaliteit het reeds ondersoek ingestel na water aanhoudend by die interseksie van Malan- en Hoofstrate opgedam het waar die beton by die plaveisel aansluit," het die munisipaliteit se woordvoerder, Didi Budricks gesê.
Volgens Budricks is bevind dat die huishoudings in Hoofstraat (tussen Van Zyl en Malanstraat) hul gryswater aan die stormwater-wegdoeningstelsel gekoppel het. Die eienaars is in kennis gestel dat dit onwettig is en is versoek om die pype aan die septiese tenke te koppel.
"Al die eienaars het gehoor gegee, behalwe een wat tans in die finale proses is."
Sy verduidelik dat die munisipaliteit met die opgradering van paaie besig is en die betongedeelte in Hoofstraat in dié dorp 'n prioriteit is.
Vorige artikel: Inwoners herstel slaggat
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'