Update
RIVERSDAL NUUS - Die graf van die bekroonde Afrikaanse-kinderboekskryfster, Alba Bouwer in Riversdal-begraafplaas is onlangs herstel na dit in Januarie deur kwaaddoeners onherstelbaar vernietig is.
Bouwer se familie, die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniging (FAK) en die grafsteenonderneming op Oudtshoorn, Wessel en Kie wat ook die oorspronklike grafsteen vervaardig het, het kragte saamgespan om dit te herstel.
Ter herdenking van Bouwer se geboortedag op 16 Maart 1920 het familielede en lede van die FAK-kultuurnetwerk dit met 'n huldigingsgeleentheid in die biblioteek op dieselfde dag gevier. Voorlesings is uit haar werke gedoen en familielede het herinneringe van Bouwer gedeel.
Bouwer se liefde vir kinders word met die volgende woorde op haar grafsteen saamgevat: "Met woorde het sy vir die kinders van Suid-Afrika in eenvoud karakters en beelde geskep om lank en ver en tot oudag te koester."
Albertha Magdalena Bouwer het op 'n plaas in die Vrystaat grootgeword en dis ook daar waar sy meeste van haar inspirasie vir die stories, soos die immergewilde boek, Stories van Rivierplaas gekry het.
Met dié geleentheid het Karien Coetzee, lid van die FAK- Kultuurnetwerk op Riversdal, drie gedeeltes van Bouwer se skryfwerke voorgelees. Volgens Smith het Coetzee se voorlesing van 'n gedeelte uit die boek die gehoor lekker laat saamlag.
"Ek het dadelik verlief geraak op haar skryfstyl. Dit lees baie maklik, dit bind 'n mens," het Coetzee gesê.
Bouwer se stiefkinders onthou haar as iemand wat lief was vir boeke, "Sy het nie rakke vol boeke gehad nie, sy het mure vol boeke gehad," het haar stiefseun, Leon Coetzee gesê.
Bouwer word veral vir haar liefde en omgee vir haar medemens onthou en al het sy self nie haar eie kinders gehad nie, het sy twee keer gebroke gesinne se lewens verander deur as moeder en versorger vir hulle in te tree. Sy het verskeie toekennings vir haar kinderliteratuur ontvang.
Bouwer se nalatenskap sal nog lank voortleef in die stories wat sy geskryf het vir oud en jonk.
Familielede van Alba Bouwer en die FAK-Kultuurnetwerk by haar graf. Van links: Almo Zietsman (skoonseun), Marlene Zietsman, Leon Coetzee (stiefseun), Lettie Coetzee, Monique Hofmeyr, Francois Hofmeyr (stiefseun), Elizma Smith, Juanine Kok (FAK-kultuurorganiseerder), Ciska Strauss (kleindogter), asook Wilna en Jan Hofmeyr (stiefseun).
Verwante artikel: Skrywer word so onthou
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'