WES-KAAP NUUS - Meer as 400 navrae is reeds by die AHi Wes-Kaap se inbelsentrum ontvang sedert dit verlede maand in bedryf gestel is.
Die sentrum is op 18 Mei bekendgestel tydens die amptelike ingebruikneming van hul hoofkantoor in George. Tydens die geleentheid is 'n formele ooreenkoms vir finansieringshulp deur TRIAS, 'n internasionale ontwikkelingsorganisasie wat bande het met die Vlaamse regering in België en die AHi Wes-Kaap onderteken.
Opleiding vir voornemende entrepreneurs begin ook aanstaande week in alle erns.
Volgens die voorsitter, dr. Willie Cilliers is tot op 8 Junie altesaam 423 direkte navrae en WhatsApp-boodskappe ontvang, waarvan die oorgrote meerderheid navrae gehandel het oor besigheidsopleiding vir sakeondernemings. Navrae was uit die Eden-distrik, wat plekke soos Riversdal, Mosselbaai, George, Knysna, Plettenbergbaai, Uniondale, Oudtshoorn, Ladismith en Calitzdorp insluit.
Ander navrae het verband gehou met hoe om 'n sakeonderneming te begin, soos toegang tot finansiering, registrasie van 'n sakeonderneming en mentorskappe. "Die hoeveelheid navrae uit die gebied kan waarskynlik toegeskryf word aan 'n voetsoolveldtog wat na 24 Mei in die gebied gehou en verskeie dorpe besoek was," het hy gesê. Die doel was om inligting deur te gee aan mense wat hul eie sakeondernemings wil begin.
Cilliers sê fondse is tot einde Desember beskikbaar om die AHi by te staan. Gesprekke het reeds begin om dit daarna, vir 2019 te verleng. Hy het benadruk dat die AHi Wes-Kaap 'n outonome organisasie en op koers is in sy nuwe era.
"In die stadium is daar geen koste verbonde nie vir entrepreneurs/kleinsake-ondernemings wat wil aansoek doen vir opleiding en/of mentorskappe. Die koste word gesubsidieer deur TRIAS."
Volgens Cilliers is die doel om nuwe geleenthede te skep vir kleinsake-ondernemings, bestaande ondernemings te help met groei en voorts om 'n bydrae te lewer vir die bemagtiging en skepping van nuwe sakekamers.
Verskeie ander projekte is reeds aan die gang en sal verder uitgebou word in die volgende ses maande. Dit sluit in opleiding, kleinsake-ondernemingsberade, mentorskappe en kundigheidspanele.
Belangstellendes kan die inbelsentrum skakel by 086 999 0209, of 'n WhatsApp stuur aan 063 755 2351 of 'n e-pos aan service@ahiwp.org.za.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'