SUID-KAAP NUUS - Die burgerregte-organisasie AfriForum se Maand van Selfstandigheid-veldtog vir 2017 wat op 10 Oktober afgeskop het, het nou tot 'n einde gekom.
Tydens vanjaar se veldtog het AfriForum-gemeenskapstrukture regoor die land skouer aan die wiel gesit om tot skoner, veiliger dorpe en stede by te dra deur altesaam 63 selfdoenprojekte te voltooi.
Die aksies wat aangepak is, het ten doel om leemtes in munisipale dienslewering te vul en om gemeenskappe te organiseer om self in te spring en hul omgewing te verbeter.
"Gemeenskappe is besig om te besef dat hulle nie uitgelewer is aan 'n onbevoegde regering nie.
Ons bevorder gemeenskapselfstandigheid deur selfdoenprojekte, en dít stuur 'n kragtige boodskap van hoop," sê Johann Weber, streekhoof van AfriForum se noordelike provinsies.
Weber noem dat, hoewel daar vanuit sekere oorde die gevoel kan bestaan dat hulle bloot besig is om die regering se werk te doen terwyl regeringsamptenare agteroor sit en lag, die organisasie inderdaad besig is om dienslewering te privatiseer en dat alle projekte deur hul lede gefinansier word, wie se donasies van hul belastingopgawes aftrekbaar is.
Wys jou steun vir dié aksies deur 'Selfdoen' na 45344 te SMS teen R1.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'