HEIDELBERG NUUS - Die plaaslike polisie het weereens binne 'n paar maande 'n groot slag geslaan toe hulle Donderdagaand, 19 Mei 'n 22-jarige jongman by 'n perseel in Dollar Square met dwelms betrap het.
Die man is tydens 'n steekoperasie ongeveer 21:20 deur die A-skof lede, konstabels JJ Paige en Jason Berdien, onder leiding van sers. Gerrit Swart by 'n huis in die informele buurt in hegtenis geneem.
Volgens sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder is daar tydens die visentering van die perseel op 71,31 gram tik, 74 Mandrax-tablette, twee sakskale en R100 kontant beslag gelê.
Die verdagte het Vrydag, 20 Mei in die plaaslike hof op aanklag van handel in dwelms verskyn.
Hy is vrygelaat in afwagting op die uitslag van die laboratoriumtoetse. Indien die toetse positief is, sal hy op 'n latere datum in die hof op die aanklagte verskyn.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'