RIVERSDAL NUUS - In hierdie tyd waarin ons leef is dit vir min mense beskore om 90 jaar oud te word, maar vir Sera Classen is dit net nog 'n nommer.
Sera het Donderdag 29 Junie 90 jaar oud geword, maar sien uit daarna om dit vandag, Saterdag 1 Julie, behoorlik saam met haar geliefdes te vier.
Dié oumagrootjie is vol grappies, bemoedigende woorde en glimlag heeltyd.
Volgens haar is mens se lewe so besig as jy jonk en aan die gang is, dat jy nie altyd dink aan jou medemens nie. "Maar onthou, die slotsom van sake is altyd, dit wat jy gesaai het, sal jy tog maai, so wees meer verdraagsaam teenoor jou medemens," waarsku sy.
"Ek het nie net vir die wêreld gewerk nie, ek het vir die Here ook gewerk. Sondagskool gehou, in die kerkraad gedien, biduur gehou. Ek het mense bymekaar getrek wat tot bekering gekom het," vertel sy trots.
"Buiten genade van Bo, was ek my hele lewe lank altyd besig en het nooit stilgesit nie. Vroeër jare het ek vroeg opgestaan en gebak om die plaaswerkers te betaal en die huishouding en plaas te onderhou."
Sy bly die afgelope twee jaar by haar dogter, Magda de Jager (71) waar sy haar besig hou met haar gunsteling stokperdjies soos hekel, lees en volwasse inkleurboeke.
"My ma se hande staan vir niks verkeerd nie, sy het net so hard soos my pa geboer, partykeer harder as hy gewerk," vertel Magda.
Die goeie raad wat sy gee vir mense is om 'n gesonde lewe te handhaaf en terwyl jy iets kan doen om besig te bly, moet jy dit doen.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’