STILBAAI NUUS - Nog 'n beskuldigde in 'n handel in dwelms-saak is Vrydag 22 Junie gevonnis.
Tom du Plooy, wat saam met sewe ander verdagtes Desember verlede jaar gearresteer is na uitstekende ondersoekwerk deur sers. James Spangenberg van Mosselbaai K9 en konst. Christiaan Zwiegelaar van Stilbaai-polisie, het skuldig gepleit op die aanklag van handel in dwelms. Tonia Richards is op 27 Maart tot drie jaar korrektiewe toesig gevonnis.
Du Plooy se prokureur, Christi Olivier, het verskeie redes aangevoer ter versagting van Du Plooy se vonnis, onder andere dat hy aan epilepsie ly, werkloos is en dat sy beeld baie skade gely het nadat die koerant na sy arrestasie na hom verwys het as 'n dwelmhandelaar.
In Du Plooy se verklaring het hy genoem dat hy nie self in dwelms handel gedryf het nie, maar slegs aan die persone wat hom gevra het, verduidelik het waar hulle dwelms kan bekom. Hy is tot 12 maande gevangenisstraf gevonnis, opgeskort vir vyf jaar. Hy is ook onbevoeg verklaar om 'n vuurwapen te besit.
Spangenberg het na die hofverrigtinge aan Suid-Kaap Forum gesê dat die skuldigbevinding 'n groot oorwinning is en dat mense moet besef dat jy net so skuldig is as jy die verkoop van dwelms bevorder, soos in Du Plooy se geval.
Terence Faans, sekerheidswag by die landdroshof, het die koerant se aandag gevestig op muthi wat op die vloer agter die beskuldigdebank gestrooi is - dit sal glo help om 'n beskuldigde onskuldig te bevind.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'