STILBAAI NUUS - Nog 'n dwelmsmokkelaar is op drie klagtes van handeldryf na 'n intense en tydsame ondersoek op 18 Januarie in hegtenis geneem.
'n 26-Jarige man is betrap waar hy tik, mandrax en dagga verkoop het.
'n Bedekte ondersoek is geloods na inligting deur die gemeenskap aan die polisie verskaf is rakende die aktiwiteite van die vermeende handelaar.
Gegewe die erns van die inligting kon die polisie dit nie ignoreer nie.
Konst. Christiaan Zwiegelaar van Stilbaai-polisie, verbonde aan Projek Sunshine onder leiding van sers. James Spangenberg, K9 Mosselbaai het die inisiatief geneem om die gerugte te bevestig en het 'n in diepte optrede geloods.
"Die uitslag van die aanvanklike ondersoek het aangedui dat hierdie persoon wel aktief in die dwelmnetwerk betrokke is."
Zwiegelaar het die persoon in 'n lokval optrede met drie geleenthede betrap waar hy genoemde dwelms verkoop het.
"Die vermeende handelaar kan tot en met 25 jaar tronkstraf opgelê word indien hy skuldig bevind word."
Die verdagte het reeds Vrydag 19 Januarie in die hof verskyn waar borgtog geweier is en die saak is weer tot Vrydag 26 Januarie uitgestel waar moontlik vir formele borgaansoek gedoen gaan word.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'