ALBERTINIA NUUS - Die 17-jarige wat in verband met die moord op Hendrik (Hennie) Louw gearresteer is, het Maandag 8 Julie in Riversdal-landdroshof verskyn.
Volgens kapt. Malcolm Pojie, Suid-Kaap polisiewoordvoerder, het die verdagte op Sondag 7 Julie om ongeveer 11:40 na bewering vir Louw (54) met 'n skerp voorwerp gesteek. Louw het aan veel-vuldige steek-wonde op die toneel beswyk.
Die verdagte het glo ook die polisielede wat 'n voorval van huismoles ondersoek het, gedreig.
'n Outopsie sal later in die week uitgevoer word om die oorsaak van dood vas te stel.
Suid-Kaap Forum se korrespondent op Albertinia, Heinrich Fortuin, woon in dieselfde straat as die slagoffer en was kort na die voorval op die toneel. "Die mense wat baklei het, is my bure en ek het niks eens gehoor nie. Toe ek my kar uittrek om te ry, het ek gesien iets is groot fout," het hy gesê. Hy het dadelik gaan ondersoek instel en die liggaam sien lê.
Inwoners op die toneel het hul afgryse oor die voorval uitgespreek. Van die inwoners wat Louw geken het, het gesê hy was 'n vriendelike, rustige en hulpvaardige mens wat niemand gepla het nie. Ook op sosiale media het dit oor die sinnelose voorval gegons. Die volgende kommentaar op Facebook het min of meer saamgevat wat die meeste mense gesê het: "Hy het nooit verby my geloop nie, altyd my hand gevat en gevra hoe gaan dit, hy was altyd dieselfde, nooit 'n lang gesig gehad nie..."
Die saak is tot Donderdag 11 Julie uitgestel wanneer die verdagte in die Albertinia-landdroshof sal verskyn. Hy bly in aanhouding.
Hy word aangekla van moord, aanranding op polisie en besit van 'n gevaarlike wapen.
IN SHORT
A 17-year-old suspect was arrested in connection with the death of Hendrik Louw (54) in Albertinia on Sunday 7 July at about 11:40. He appeared in the Riversdale Magistrate's court on Monday 8 July on charges of murder, assault of police official and possession of a dangerous weapon. It is alleged that the suspect assaulted the victim with a sharp object and threatened members of the police that attended a domestic violence related matter. The case was postponed to Thursday 11 July. The suspect remains in custody.
Wyle Hennie Louw.
'We bring you the latest Albertinia, Hessequa news'