HEIDELBERG NUUS - 'n Groep gemeentelede van Kaapstad het Sondagmiddag 16 Julie om ongeveer 17:00 'n noue ontkoming gehad toe die Quantambussie waarin hulle op pad terug huis toe was, sowat 4km net buite Heidelberg die pad verlaat, omgeslaan en in die landery op die sykant te lande gekom het.
Altesaam 16 insittendes, waaronder 12 vroue en vier mans het van geringe, tot ernstige beserings opgedoen.
Hulle is onderskeidelik na Riversdal en Swellendam se hospitale vervoer. Die toneel het soos 'n slagveld in die skemer gelyk met die noodvoertuie se ligte wat die naderende donker verlig het.
Volgens omstanders op die toneel, wat deel van die konvooi van voertuie was, is hulle lede van die Noah's Ark Kerk van Kaapstad, wat vir die naweek in Knysna was.
Hulle was ongeveer 150 gemeentelede wat in vyf Quantam bussies, een 60-sitplek bus, asook 'n paar motors gereis het.
Volgens die polisie op die toneel vermoed hulle dat 'n band gebars en die bestuurder beheer oor die voertuig verloor het.
ARTIKEL & FOTO: CLIVE PRETORIUS, SUID-KAAP FORUM KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'