Gallery Update
RIVERSDAL NUUS - Om die natuurwonder, die Sleeping Beauty, gedeelte van die Langeberge buite Riversdal te aanskou is sekerlik deel van baie se toerismebeplanning met 'n besoek aan die Hessequa-streek.
Om die Sleeping Beauty-wandelroete tot op die kruin, of te wel die kop van dié slapende skoonheid uit te stap, wil gedoen wees. Om dit op jou 70ste verjaardag vir die 100ste keer binne 11 jaar te vermag is uniek.
Piet Diedricks het Saterdag, 21 November die staproete tot bo vir die 100ste keer uitgewandel en reeds om 07:00 op die kruin gestaan en die natuurskoon bewonder, as deel van sy 70ste geboortedagherdenking. "Honderd is net 'n nommer. Ek gaan die roete nog baie keer aandurf," sê Diedericks.
Hy was van 16 ander stappers vergesel, onder wie drie vriende, Hennie Pieterse, Adam Damons en Elrich Bouwer met wie hy vriendskapsbande gedurende die 11 jaar op die wandelroete versterk het. Pieterse het al 40 keer, Damons 30 keer en Bouwer 28 keer die wandelroete saam met Diedericks aangedurf. Die ander kere het Diedericks saam met verskeie groepe stappers na die kruin geklim. "Van hulle het halfpad omgedraai en vir sommige was die pas net te straf om by te hou. Van hulle sê nooit weer nie, maar meeste durf die roete weer aan," vertel hy.
Fotogalery: Man klim berg 100 keer uit
Dit is 14km se heen-en-weer sweet en stap. Diedericks het altesaam 1 400km oor die 11 jaar op en af gestap.
Om die sukses van die opwaartse mars op die kruin te vier, word daar elke keer ontbyt bo-op die berg geëet, die natuur word bewonder en dan word daar teruggekeer. Hy vertel sy eerste keer wat hy die Sleeping Beauty aangedurf het, het sewe mense saam met hom gestap. Hulle het dit toe binne een uur en 20 minute na bo vermag.
Vir Diedericks is die Sleeping Beauty se klim uniek. "Ek hou van die natuurskoon. Mens hoef nie na ander berge te soek nie. Die pragtige roete is hier naby om te geniet."
Hennie Pieterse, Piet Diedericks en Adam Damons.
Vorige artikel: Diederics se 100ste klim na kruin
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'