RIVERSDAL VERKIESINGSNUUS - Woensdagmiddag, toe die ergste van die verkiesingskoors al so 'n paar grade gesak het, het Suid-Kaap Forum weer die strate ingevaar om te gaan hoor hoe kiesers die stemmery ervaar het.
By die stemlokaal by Riverville-stadion was daar steeds geen lang toue mense nie, maar oorkant die straat het die mense op hul stoepe en langs die straat die stemmery van 'n afstand af gade geslaan.
Katrina Benjamin, 'n tannietjie van 80 met 'n swart fluweeltjalie om, het onder 'n boom gesit. "Ek het al meermale gestem, al die jare vir dieselfde party," het sy vertel.
Op die sypaadjie oorkant die straat het twee oumense op tuinstoele gesit, terwyl die jongeres, sommige met kleintjies in die arms, ook toegekyk het. Kevin Demas (25) met sy seun Kevandré in sy arms, was een van hulle. "Ek het gevoel dis die regte besluit om vir dié party te stem. Hulle maak elke keer beloftes, maar ek voel ons het nog altyd goeie diens gekry. Ek het lankal aansoek gedoen vir 'n huis, 'n mens wil mos maar jou eie plek hê. Maar ek is geduldig, ek sal nog wag…"
Kevin Demas, met sy seun Kevandré in sy arms: “Ek is geduldig, ek sal nog wag.”
By Kruisrivier Primêr se stempunt was min tekens van lewe. By die ANC se tent, waar vroegoggend gewoel is om die tydelike skuiling teen wind en weer opgeslaan te kry, het die musiek se volume bietjie fut verloor.
Drie manne in eenderse blou oorpakke het een na die ander by die agterdeur van die stemlokaal uitgekom en koers gekies na 'n wit bakkie by die DA se tentjie, en agterop geklouter. "Wil jy saamry?" het die grys man agter die stuurwiel gevra. "Ek gaan nog mense haal om te kom stem - ons mag nie een stem verloor nie."
'n Viertal brandweermanne het op die burgersentrum se trappe gesit, net ingeval. "Tydens verkiesings word die belangriker en groter sentrums soms geteiken, dis dié dat ons hier ontplooi is," het Enrico Jackson verduidelik.
Van links: Michael Hendriks, Gideon Mouton (agter), Charlie Mlungisi (voor) en Enrico Jackson: "Soms word belangriker en groters sentrums op stemdag geteiken."
Die blou OVK-linte wat die oggend nog vars gespan was, is deur die middag se wind losgerafel en het 'n opdrifsel in die straat gelê. Voor die ANC se karavaan het 'n paar mense gesit en die stadige stemmery oorkant die pad bekyk. 'n Ent van hulle af het 'n klompie VF+-ondersteuners gesit en koukus. "O yes, elke stem maak 'n verskil," het Anette Steyn, VF+ onderburgemeester Johannes Hartnick se persoonlike assistent, gesê. "Ons het vir die regte party gestem sodat ons kan ophou toelaat dat die regering vir ons voorsê."
Anette Steyn: “Elke stem maak ’n verskil.” Foto’s: Tisha Steyn
By die DA se tent voor die Makadas-lokomotief, waar almal vroegoggend toe die son om die kerktoring loer vol vuur was, was die gemmerkoekies saam met die stamina aan die opraak. Die wind het aanhou om die plakkate van Musi Maimane en Alan Winde om te waai. Rosaline van der Vindt en haar ma, Maria Williams, het ook kom stem. "My stem maak 'n verskil omdat ons land beter kan vorder onder dié party," het Van der Vindt gesê. "Ek stem omdat dit ál beter in ons provinsie gaan," het haar ma beaam.
Rosaline van der Vindt en Maria Williams: “Dit gaan al beter in ons provinsie.”
Nêrens was 'n teken van oproerigheid nie, nêrens het iemand asblikke omgekeer nie, nêrens het geweerskote opgeklink nie.
Stemdag het gekom, en stemdag het gegaan in die tuiste van die Slapende Skoonheid…
'We bring you the latest Riversdal, Hessequa news'