Video
HESSEQUA NUUS - Die sesde demokratiese nasionale verkiesing in Witsand en Vondeling, net langsaan, asook in Slangrivier, sowat 30 kilometer verder, het fluks afgeskop, en die kiesers het heel oggend die beamptes goed besig gehou. Opvallend was die uiteenlopende benaderings tot stemdag by die verskillende stembusse.
In Witsand was dit meestal ouer mense wat die lyn aan die loop gehou het. Hul benadering was saaklik en doelgerig, selfs stug.
Dis net wanneer vriende mekaar in die paadjie na die rolbaanbaan se saaltjie raakloop dat mens die goedige gespot en gelag kon hoor. Maar origens was dit ‘strictly business’ – ‘n ernstige saak.
By Vondeling was dit meestal plaasboere wat hul werksmense ingebring het om te stem. Hier was dit dieselfde soos in Witsand. Jy kyk net voor jou, in by die skoolsaaltjie, uit, en weer in die bakkie. Next!
In Slangrivier was dit heeltemal iets anders. Hier was dit een groot fees! Musiek uit vier verskillende tente, almal langs mekaar, is op hulle hardste oopgedraai. Party-ondersteuners dreun mekaar met mense aanry, oues vergesel en lyste nagaan om te sien wie moet nog kom stem.
Wat ek ook opgelet het, is dat daar geel T-hempies by die rooi T-hempies sit gesels, en selfs hempies omruil, terwyl blou hempies in en uit by geel, rooi en groen gekuier het! Wat beteken dit? Is dit voorspooksels? Stemdag kan maar weer gebeur - van spanning en vyandigheid tussen kiesers was hier geen teken!
Een oompie skerts: vir hom is dit ‘n groot dag - sy vroutjie en hy stem vir die eerste keer saam!
Kyk 'n video hieronder.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'