VERKIESINGSNUUS - Daar is niks wat 'n gemeenskap so deurmekaar krap, so baie onmin saai en spanning veroorsaak soos 'n plaaslike, provinsiale of nasionale regeringsverkiesing nie.
Lank nadat sulke verkiesings verby en vrede met die uitslag gemaak is, loop van die dorpsmense steeds koponderstebo by mekaar verby - praat nie met mekaar nie!
En dis weer sulke tyd - die 'silly season' is hier.
Dis in die lug - koppe hang lank reeds op die ligpale, en daar word hard gewerk om die sale stampvol te kry as die diknekke uit die stad of uit groot dorpe kom vir die 'roadshow'-vergaderings.
In die takke van politieke partye woel dit. Sommige lede is aktief by deur-tot-deur besoeke betrokke, terwyl 'n jonger groep met lang naamlyste by hulle, die belangrike boodskap deur sosiale media uitstuur en laat aanstuur. Oues van dae kry nou gereeld besoek of word na partytjies genooi deur mense wat hulle van g'n kant af ken nie, maar ontvang tog dankbaar die geskenkpakkies wat die pragtige mense aan hulle uitdeel. Sommige aspirant-kandidate word reeds geruime tyd voorlangs in die kerke opgemerk. Hulle dra met 'n koevertjie in elke kollektebordjie mildelik by.
In die buurte begin vriende mekaar vermy, en selfs sekere families kom vir hierdie tyd minder en minder by mekaar se huise.
In die skole begin kinders mekaar koggel oor wat hulle in die huis, op straat en oor die televisie hoor. In die ouer klasse word tekortkominge en deugde van hierdie politieke leier en daardie kandidaat kaalkop uitgestry en standpunt ingeneem. In die werksplekke praat niemand politiek nie: nie op die werksvloer nie, ook nie in die 'stafkamer' nie - net etenstye sien mens wie sit by wie. Alles raak versuur.
En tog is dit so nodig dat mense aan hierdie belangrike proses moet deelneem.
Mense moet aangemoedig word om hul stem uit te bring vir die party en die kandidaat van hulle keuse. Daar is dinge waaroor mense baie sterk voel en op stemdag wil almal hulle stemme vryelik uitbring.
Ons, wat anders as die bure voel, of met die mense verskil met wie ons al jare saamwerk, moet dit so verstaan en respekteer - dis elke persoon se grondwetlike reg! As ons dit so verstaan, en mekaar en ons kinders hierdie politieke opvoeding gee, sal die spanning, onmin en onplesierigheid onder mense vinnig minder raak.
Elke plaaslike politieke party en sy leierskap het die verantwoordelikheid om te alle tye die eenheid van die gemeenskap voorop te stel. Sodoende word 'n groot mate van politieke volwassenheid en verdraagsaamheid onder lede aangewakker, en dis wat mens wil sien, of dit nou 'n plaaslike of nasionale verkiesing is.
Die stryd om stemme te wen gaan oor die laaste paar weke hard wees - dit gaan immers om politieke mag in die land. Tog moet dit nooit ten koste wees van dit waaroor die einste verkiesing juis gaan nie: om die geskikste mense in regering te kry en om vir die land se mense oor die breë 'n gesonde en verbeterde gemeenskapslewe te verseker.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'