SLANGRIVIER NUUS - Gerald Boezak van die DA het Woensdag 10 April die tussenverkiesing in wyk 4 ingepalm.
Dit is die eerste keer dat die DA hierdie wyk, wat in Februarie vanjaar met die afsterwe van Thomas Pretorius vakant geraak het, wen. Die DA se steun het sedert die 2016-verkiesing, toe die DA 850 stemme (34,27% gekry het, met 20% toegeneem.
Boezak (36), wat as 'n groentjie in die politieke arena beskou kan word, het die setel met 'n meerderheid van 389 stemme van die ANC gebuit toe hy 1 404 stemme (57,14%) teenoor Lisby Pieterse van die ANC se 1015 stemme (41,31%) gekry het. Die VF Plus se Ben Dell het 1,10%, en die onafhanklike kandidate Jabe Hoogbaard 2,93% en Wayne September 1,33% van die stemme gekry.
Dit was vroegdag al bedrywig by die vier stemlokale. By Diepkloof, Heidelberg en Slangrivier het die spanning tot kort voor middernag hoog geloop terwyl veral DA- en ANC-ondersteuners op die finale uitslag gewag het. Geen werklik ongure voorvalle het plaasgevind nie. Honderde DA-ondersteuners het Boezak luidkeels toegejuig toe die uitslae uiteindelik bekend gemaak is.
Van links is Granville Michaels van die VF Plus, asook Benjamin Olyn en Alistair Steyn van die ANC.
Lisby Pieterse het op navraag aan Suid-Kaap Forum se korrespondent gesê dat, hoewel sy teleurgesteld is, nie die uitslag betwyfel nie omdat alles volgens die regte prosedures verloop het. "Dit is wel vir ons as ANC 'n 'eye opener' en aanduiding dat ons harder moet werk." Sy het Boezak sterkte toegewens met die taak wat op sy skouers rus.
Onder diegene wat by die stemlokale teenwoordig was, is onder andere Jaco Londt, Tertuis Simmers, Dennis Josephs en Louise Mouton van die DA-kamp, asook Grant Riddles, uitvoerende burgemeester, Andrew Stroebel (speaker) en ander raadslede, onder wie Jennifer Hartnick, Annemarie Joubert en Tinus van der Berg. "Die DA het die wyk gewen omdat die hele span vooraf baie hard gewerk het," het Riddles gesê.
ANC-ondersteuners tydens die verkiesing.
Dié DA-lede was prominent in die opbou tot Gerald Boezak se sukses by die stembus. Van links: Tinus van der Berg, Tertius Simmers, Boezak, Grant Riddles, Andrew Stoebel en Louise Mouton-Botha, asook (nie teenwoordig nie) Rozain Hansen, Annemarie Joubert, Ben Smith en Simon Odendaal.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'