HEIDELBERG NUUS - Die plaaslike polisie het weer 'n groot slag geslaan toe hulle ‘n 21-jarige jong vrou verlede Vrydagaand vir die besit van dwelms in hegtenis geneem het.
Die vrou is omstreeks 21:15 deur die C-skoflede, onder leiding van kapt. Noxolo Rulwa, plaaslike Vispol-hoof, sers. Vuyo Vryman en konst. Keeno Fredericks op die N2 sowat 16 km buite Heidelberg in die rigting Swellendam met die dwelms betrap.
Sers. Imorgene Hendricks, plaaslike polisiewoordvoerder, sê hulle het inligting ontvang dat daar ‘n besending Mandrax-tablette vanaf Swellendam op pad is. Die voertuig is digby die plaas, Voorstekop, afgetrek en op 75 Mandrax-tablette asook 'n hoeveelheid tik beslag gelê.
Die beskuldigde van Slangrivier is op die toneel in hegtenis geneem en het vlugtig in die plaaslike landdroshof verskyn.
Die geskatte straatwaarde van die Mandrax en tik beloop ongeveer R4 000.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’