Update
HESSEQUA NUUS - Baie mense weet nie eens dat hulle die Covid-19-virus onder lede het nie, omdat die simptome feitlik in elke mense verskil en daarom versprei dit ook so vinnig.
‘n Mediese dokter, Lee-Ann Sulliman se eggenoot, Leonard Williams jr is ‘n boorling van Heidelberg. Sy het dit goedgedink om ‘n paar wenke met inwoners te deel.
Sulliman, werk reeds agt jaar as ‘n algemene praktisyn en noodgevalle dokter in Johannesburg. Sy het op Stellenbosch Universiteit gestudeer, waar sy haar in geneeskunde kwalifiseer het.
Sy werk tans as ‘n frontliniewerker en is 80% van haar pasiënte deur Covid-19-infeksies geraak.
“Ek wil graag die gemeenskap van Heidelberg, maar ook die Hessequa-streek inlig oor hoe die verskeie simptome lyk.”
Volgens Sulliman is twee of drie simptome genoeg om met kwarantyn te begin, jou dokter te raadpleeg en om vir die virus te toets.
Simptome
- Algemene simptome lyk soos die begin van ‘n boonste lugweginfeksie, byvoorbeeld ‘n loopneus, nies, toe neus, seer keel en hoofpyn.
- Dan is daar ook hoes, kortasem of drukking op die bors.
- Baie mense ondervind lyfseer, rugpyn, koors of “chills” (die gevoel van erge koud kry).
- Die virus kan ook jou derms affekteer en simptome soos naarheid, braking, buikkrampe of diarree veroorsaak.
- ‘n Baie kenmerkende simptoom van die virus is die verlies van reuk en/of smaak, of abnormale reuk en/of smaak.
“As jy enige van die bogenoemde simptome ervaar, begin onmiddellik met kwarantyn en kontak jou dokter. Vra vir jou dokter om ‘n Covid-19-toets te doen en vroeg met behandeling te begin. Dit sal help vir enige virale infeksie. Ek beveel aan dat jy die medikasie neem nog voor jou uitslae beskikbaar is.”
Volgens Sulliman is nie almal uit die staanspoor kortasem nie. Dit ontwikkel gewoonlik binne ‘n week vanaf die eerste simptoom, dus hoe vroeër jy met behandeling kan begin, hoe beter jou kanse dat jy nie so siek sal word nie.
Sy benadruk ook dat hoe vroeër jy met kwarantyn begin, hoe beter die kans is dat jy nie jou familie en vriende sal aansteek nie.
“Vroeë opsporing en behandeling is ons beste vorm van verdediging teen die virus, maar die enigste manier vir ons lewens om terug na normaal te keer is vir almal wat kan om hulle entstof te ontvang. Sulliman maan verder dat dit die imuunstelsel help om die virus te beveg.
“Nie net sal ons minder siek raak nie, maar ons sal ook minder aansteeklik wees.”
Wat die middel ivermektien betref wat baie mense blykbaar gebruik, noem sy dat dit nog nie as ’n behandeling vir Covid-19 goedgekeur is nie. “Tans word daar nog wêreldwyd studies gedoen. Baie studies het wel gewys dat ivermektien in orale tabletvorm veilig vir mense is; nie die olie wat so baie mense gebruik nie.”
Sy het benadruk dat 'n mediese dokter dit waarskynlik nie sal voorskryf as deel van ‘n pasiënt se behandeling nie, omdat dit nog nie vir Covid-19 goedgekeur is nie. Indien ‘n pasiënt haar daarvoor vra, sal sy seker maak hulle het geen kontra indikasies teen die gebruik van die medisyne nie.
“Ek sal seker maak dat hulle die moontlike newe effekte van die medikasie begryp, maar weer eens, die gebruik daarvan waarborg nie dat jy gesond gaan word nie. Die keuse bly joune om dit gebruik of nie.”
Dr Lee-Ann Sulliman en haar man, Leonard Williams.
Vorige artikel: Dokter gee raad oor simptome
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'