RIVERSDAL NUUS - In Augustus 2018 het André van der Merwe Vodacom Stilbaai oorgeneem en skaars twee jaar later het dié winkel 'n toekenning vir uitnemendheid van Vodacom SA ontvang as een van die tophandelaars in die land.
In 2020 neem André Vodacom in Riversdal oor en 'n jaar later, in 2021, wen hy weer 'n toekenning vir Riversdal as die tophandelaar.
"Ek het eerlikwaar nie gedink dat ek weer sou wen nie en dié keer die Riversdal-tak.
"Maar dit gaan meer oor dienslewering, die personeel en vriendelikheid as enigiets anders. Deur navrae professioneel en met deernis te hanteer, het herhalende besigheid en eventueel groter verkope tot gevolg.
"Dit gaan daaroor om jou tyd te neem en die ekstra tree te gee om deeglike huiswerk namens jou kliënt te doen, en om verskillende keuses en billike opsies en individuele doelgemaakte pakette vir hul behoeftes aan te bied.
"So, ons het daarop gekonsentreer om dit te doen wat ons veronderstel is om te doen. En ons het daarin geslaag om weer eens ons teiken te oortref. Dit was totaal onverwags."
Vodacom stel jaarlikse doelwitteikens vir gekatagoriseerde handelaars dwarsoor Suid-Afrika waar hulle, onder andere, kyk na verskeie aspekte soos 'n winkel se getal kontrakte wat hy het, opgraderings, die voorkoms van die winkel en kliëntediensopnames.
"Ons het daarin geslaag om alle verwagtinge te oortref en ek wil in besonder my personeel bedank vir hul toegewyde diens en hul daaglikse optrede teenoor kliënte. Sonder my personeel se toewyding en ondersteuning sal dit nie moontlik wees om toekennings te wen nie.
"Nooit het ek kon dink dat Stilbaai en daarna Riversdal dié toptoekennings sou wen nie."
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'