Advertorial Gallery Video
HESSEQUA SAKENUUS EN VIDEO - OppiPlaas-padstal digby die bootjie wat die afdraai na Stilbaai aandui, is onder nuwe bestuur en sommer uit die staanspoor prut 'n splinternuwe, opwindende spyskaart.
Rina Fourie, die nuwe bestuurder, het die sleutel vir die padstal Saterdag 1 Februarie ontvang en sy gun haarself presies 14 dae voor die nuwe kos- en kuierplek op 15 Februarie amptelik open.
Die padstal se voorkoms ondergaan tans - soos die spyskaart - 'n gedaanteverwisseling.
"Ons gaan fokus op streekkos met 'n kinkel," vertel sy geesdriftig. Baie van die kos, soos die kontinentale kase en buitengewone brode kom uit haar eie kombuis.
Sedert sy vyf jaar gelede saam met haar man uit Gauteng na Oulyf Plasie by Dekriet naby Albertinia verhuis het, het sy gedroom om so 'n padstal te bedryf. "Ons plaas is nie as afsetplek geskik nie en ek het begin uitkyk vir 'n venue soos hierdie," verduidelik sy. "Ek glo 'n mens moet waarde tot plaasprodukte toevoeg."
Kasselshoop se gawe eienaars het voorgestel sy moet 'n spesifieke kaasmaakkursus in Stellenbosch deurloop.
So gesê, so gedaan en sy het in 'n groot kastrol in haar kombuis begin kaas maak. Nie sommer enige kaas nie, maar spesiale kaas soos Morbier, Fontina en haar eie bloukaas met die Oulyf Plasie-handelsnaam. Intussen het sy 'n kaasvat bekom wat die kaasmakery 'n hupstoot gegee het.
Sy bak ook haar eie besonderse brode, soos die swart charcoal-brood wat met geaktiveerde steenkool, 'n skoot heuning en geroosterde koljandersade gemaak word. Haar eie aanbiedinge en produkte soos aalwynkonfyt, atjar en olyfprodukte, om maar enkeles te noem, is op die spyskaart. Jakkalsvlei se wyne, bier en regte-egte koffie word ook te koop aangebied.
Kyk 'n video hieronder:
Diegene wat al 'n draai by die Brugmark op Stilbaai gemaak het, sal haar produkte ken.
Intussen is die aansig en binnekant van die padstal besig om nuut oorgedoen te word. Daar word gekap, getimmer en gesaag soos haar dogter Carien Kapp en vennoot Chris Swanepoel van Darling besig is om netjiese houtafwerkings aan te bring. "Die padstal word 'n keurige eetplek waarheen ek veral buitelandse toeriste met die spesiale spyskaart wil lok. Ek dink ons het 'n wenresep!"
Die binnekant is besig om 'n gedaanteverwisseling te ondergaan.
Rina Fourie maak haar eie kontinentale kase en bak haar eie spesiale brode.
Nuwe bestuurder Rina Fourie se souterige kaaskoek.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'