RIVERSDAL SAKE NUUS - Henque Waste is sedert 2007 besig met herwinning in die Hessequa area en het weer die tender vir die volgende drie jaar vanaf 1 September 2017 ontvang.
Sedert Henque Waste se ontstaan in Riversdal het hul reeds uitgebrei na Eden, Bitou, Langeberg en Bergrivier munisipale gebiede. Die tweesak stelsel werk uitstekend en huishoudings tree elke dag meer en meer toe tot die stelsel. Die deurskynende sak is sinoniem met herwinning en duidelik sigbaar op die sypaadjies van ons dorpe. Hier word ons weer bewus gemaak dat ons moet begin optree en toetree tot maksimale afvalbestuur.
Nasionale wetgewing gaan al hoe meer druk plaas op die end verbruiker van afval produkte deur hoër heffings op vullisverwydering te hef terwyl herwinningsmateriaal gratis verwyder sal word.
Die volgende materiale kan herwin word:
PAPIER: Karton, koerant, tydskrif, witpapier en gekleurde papier
PLASTIEK: Harde plastiekhouers, koeldrank bottels, sagte plastiek sakke, kleef plastiek, swart besproeiingspyp en kanne
GLAS: Flesse, glase en alle glas bottels (NIE venster of voertuig glas)
BLIK: Alle voedsel en koeldrank blikkies sowel as foelie houers en foelie
TETRAPAK: Melk en sap houers
Indien u nie seker is oor die produk nie, skakel ons of plaas dit eenvoudig in die herwinningsak. Ons sorteerders is opgelei om die materiale te sorteer en reg te hanteer. Ons doen ook n dringende beroep op u om nie nat afval in die sakke te plaas nie, dit kontamineer die ander materiaal en verlaag die inkomste daarvan of vernietig die materiaal in geheel vir herwinning.
Dit is ook belangrik dat u onthou dat gevaarlike goed soos gif-houers, batterye, gloeilampe en afval-olie spesiaal met ons bespreek word en nie in die sakke geplaas word nie. Sodanige materiaal moet in spesiale houers verpak word en afgevoer word na Vissershok in Kaapstad vir vernietiging. Die vernietiging van hierdie materiale sal nie sonder koste verwyder of ontvang kan word nie.
Nuwe sakke en pamflette sal vanaf 4-8 September 2017 in Stilbaai, Melkhoutfontein, Riversdal, Albertinia, Heidelberg en Slangrivier versprei word. Daar word voorsiening gemaak om Witsand, Gouritsrivier en Jongensfontein ook by die projek te betrek en sal soos volg hanteer word:
Witsand en Gouritsrivier – Sakke kan by die plaaslike munisipale kantoor afgehaal word. Inwoners is self verantwoordelik om hul vol sakke te neem tot by die sentrale versamelpunt (hok) wat by die Munisipale Werkswinkel beskikbaar is.
Jongensfontein – Sakke is by die Karavaanpark se kantoor beskikbaar en vol sakke moet deur die inwoners self tot in Stilbaai geneem word waar ‘n hok agter die Burgersentrum ingerig is vir die doel.
Vermaaklikheid en Garcia – Sakke is beskikbaar by Henque se stoor, in Kwanakothula, Riversdal, en kan weer daar terugbesorg word.
Alhoewel ons slegs een sak per huishouding aflaai is u welkom om ons te kontak vir ekstra sakke of u kan by u plaaslike munisipale kantoor sakke gaan afhaal. Sedert Oktober 2007 tot Julie 2017 het Henque, met HESSEQUA se inwoners se ondersteuning reeds 11004 ton se materiaal herwin. Die afgelope 4 jaar alleen is 4916 ton herwin. 11004 ton materiaal is gelykstaande aan ongeveer 798000 kub.m (8 rugbyvelde vol ‘n meter hoog gepak).
Alle boere wat hulle besproeiings pyp en gif kanne wil herwin is welkom om ons te kontak.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'