Update Video
ALBERTINIA NUUS EN VIDEO - Die boetebossie, wat as onkruid geklassifiseer is, besorg boere in dié distrik grys hare.
Gertjie van den Heever (76) het Suid-Kaap Forum meer oor die boetebossie vertel en verduidelik hoekom dié indringer as 'n euwel beskou word.
"As dié klitse eers in 'n skaap se wol verstrengel is, verloor die wol sy 'aantreklikheid' vir kopers en behaal dit gevolglik nie hoë pryse nie."
Die klitse bemoeilik ook die hantering van die wol en beskadig masjinerie. Groot onkostes moet aangegaan word om die besmette wol skoon te maak.
Die hitteproses wat soms gebruik word, kan die wol ook beskadig.
In die saailingstadium bevat boetebosse 'n giftige stof, hidrokinoon, wat skape, perde en pluimvee aantas. Dit veroorsaak simptome soos vomering, lusteloosheid, spierverswakking en stuiptrekkings by vee.
Verder is die plant 'n indringer in weivelde en omdat die vee dit nie graag vreet nie, vermeerder dit ten koste van die inheemse plant. Sover bekend het die plant ook geen nuttige gebruik nie.
VIDEO: Boetebossie gee boere grys hare
Die boetebossie plant voort deur sy doringagtige klitse. Die verspreidingsmetode is langs paaie vanwaar die klitse aan diere, voertuie of kledingstukke vaskleef. Diere dra klitse na skaapkrale, waterkrippe of watergate toe. Selfs vendusiekrale of wolverwerkingsfabrieke loop deur.
Suid-Kaap Forum het gaan naslaan oor die wetgewing op indringerplante. Volgens die wet op bewaring van landboubronne (wet 43 van 1983) is die boetebos tot onkruid verklaar - die eerste plant in Suid-Afrika om dié status te bereik.
Volgens wetgewing mag niemand die plant versprei of toelaat dat dit versprei word nie. Die plant het destyds groot kopsere in KwaZulu-Natal veroorsaak voor dit na die Wes-Kaap versprei het.
Só lyk die boetebossie, 'n verklaarde onkruid, wat vir menige boere in die Albertinia-distrik 'n groot kopseer is. Foto: Mariska Visagie
Om 'n boetebossie uit selfs 'n lammetjie se woljas te kry, is baie moeilik.
Vorige artikel: Klitse gee boere grys hare
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hesseqa nuus'