Update
HEIDELBERG NUUS - 'n Jong boer van die plaas Hoëkraal, net buite Suurbraak tussen Heidelberg en Swellendam het die gesogte titel van Toyota Agri SA jong boer van die jaar Wes-Kaap vroeër hierdie jaar verower.
Suid-Kaap Forum het by Johann Nel (31) gaan inloer en rondom 'n vroegoggend koppie boeretroos in die stal meer oor die boerdery uitgevind en daarna 'n uitstappie saam hom geneem om die plaas te besigtig. Johan het alreeds kleintyd op die trekker saam met sy oupa begin droom van boer.
Hy kon daardie droom in 2012 bewaarheid toe hy die familiebesigheid op die plaas begin bestuur.
Die gemengde boerdery bestaan uit vier vertakkings, naamlik 'n Jersey-melkery, boerbokke, Dühne-merinoskape en verskillende graangewasse. Die melkery is die hoofsaaklike deel van die boerdery en tans word meer as 1 100 koeie gemelk.
Hulle maak gebruik van 'n spesiale sisteem waar koeie op 'n draaitafel gemelk word.
Die koeie loop tot op die draaitafel, wat dan stadig in die rondte draai.
Ongeveer 340 koeie, afhangend van hul produksie, word per uur gemelk.
Die draaitafel neem 12 minute om 'n volle rondte klaar te maak en dit is meestal genoeg tyd vir 'n koei om uitgemelk te word.
Werkers het elkeen 'n spesifieke rol wat hulle vervul, hetsy spene skoonspuit, kloustukke aansit of speendoop aansit. Hulle hoef net op een plek stil te staan terwyl die draaitafel die koeie nader bring, wat dit meer arbeid-doeltreffend maak.
Johan maak staat op 'n goeie werkspan en elkeen sy deel doen, wat bydra tot sy wenresep.
Johann Nel se gunsteling deel van die boerdery is die graangewasse. Hy is op sy gelukkigste in sy stroper.
Volgens hom is dit 'n klomp faktore wat 'n rol speel. "Kwaliteit mense, 'n passie vir boerdery, bestuurspraktyke wat jy toepas, alles speel 'n rol in 'n suksesvolle boerdery."
Hy het ook 'n ystervrou, Madelé, wat agter hom staan, die plaas se boeke doen en hom ondersteun.
Die kompetisie was baie straf en was hoofsaaklik op die winsgewendheid van 'n plaas, voorkoms en bestuursfilisofie gefokus.
Kloustukke word aangesit terwyl die koeie op die draaitafel is.
Om in te skryf moet jy in die besturende posisie en tussen die ouderdom van 25 en 40 jaar oud wees.
"Dit was 'n groot voorreg om te kon deelneem en 'n nuwe ervaring waaraan ek myself blootgestel het. Ek het baie geleer en dit is 'n goeie manier om jouself aan ander boere te meet."
Werksure op 'n plaas is lank en word reeds vanaf 05:30 af gewoel en gewerskaf tot saans laat, veral met oestyd.
"'n Mens kan net soggens oes as die dou van die lande af is. Dan oes jy maklik tot 22:00."
As mens vra oor die reën, is die antwoord meer gekompliseerd as wat jy sou dink.
"Hoewel jy as melkboer altyd reën wil hê om mooi weidings te kry, wil jy tydens oestyd nie baie reën hê nie omdat die graan of koring so droog as moontlik geoes moet word, anders moet dit deur 'n droogproses gaan wat ekstra kostes beloop."
Johan het nog baie vooruitsigte vir die nuwe jaar en wys met opgewondenheid die nuwe kalwerhokke wat aangebou word sodat die mortaliteit van die kalwers verlaag kan word.
Lees 'n vorige artikel: Boer van die jaar praat uit die hart
ARTIKEL & FOTO'S: ALETTA SUTHERLAND, SUID-KAAP FORUM KORRESONDENT
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'