RIVERSDAL NUUS - Vanjaar is die Riversdal-landbouskou se 150ste viering en sal die baie gewilde pluimvee-afdeling weereens 'n groot aantrekkingskrag wees vir oud en jonk.
Tans word gewoel en gewerskaf om die saal onder die skoupaviljoen gereed te kry.
Vanjaar is geen uitsondering wat betref die getal en gehalte inskrywings ontvang nie.
Soos verlede jaar is die saal tot sy maksimum kapasiteit gevul.
'n Paar hokke sal nog bygevoeg word om die groot getal van 260 inskrywings te kan huisves.
Die Riversdal-skou is bekend daarvoor dat alle pluimveesoorte hier uitgestal word, naamlik verskillende groot hoender, bantam, eend, gans en selfs ook kalkoenrasse.
Daar is ook weer 'n eieruitstalling wat deel van die beoordeling vorm en waar die kwaliteit van die eiers bepaal word.
Alle pluimvee, sowel as die eiers word volgens SASPO (South African Show Poultry Organization) se skoureëls en standaarde beoordeel.
Vertoners so ver as die Boland, Overberg, Klein-Karoo en selfs Middelburg sal by vanjaar se skou uitstal.
Vanjaar se beoordelaar is mnr. Pieter Stofberg van Rawsonville en ook die Wes-Kaap-pluimveeklub voorsitter.
Buiten vir die pryskaarte, rosette en wisseltrofeë sal daar ook weer 'n verskeidenheid pryse, wat kontant, geskenkbewyse en handige geskenke insluit.
Telers sal ook weer van hul goeie gehalte pluimvee te koop aanbied tydens die skou week.
Ons nooi alle belangstellendes uit om 'n draai te kom maak by die pluimvee-afdeling. Kom gesels met die vertoners oor hul passie vir die stokperdjie van skouhoenders teel en skou.
Ons moedig veral die jeug aan om ook betrokke te raak met hierdie geveerde sport.
Dit is ook 'n ideale gesinstydverdryf en almal kan deel raak in die proses van skouhoenders teel.
Telers sal ook weer van hul goeie gehalte pluimvee te koop aanbied tydens die skou week.
Vir meer inligting of navrae, kontak John Cronjé by 084 584 0612 of e-pos: jfcronje@vodamail.co.za.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'