Update
HEIDELBERG NUUS - Sestien Jersey-plase is vanaf 17 tot 20 September besoek en hoewel beoordeling in koue en reën moes plaasvind, was almal net te dankbaar vir die seëning van bo.
Jersey-kuddes vanaf Swellendam tot Riversdal is deur Francois Potgieter beoordeel. Hy is van Calitzdorp afkomstig en doen reeds vir 32 jaar beoordeling.
Volgens hom was die kuddes baie kompeterend en is die Suid-Kaap se standaard ook baie hoog.
Die Suid-Kaap Jerseyklub het Vrydag 21 September hulle jaarlikse kuddekompetisie, prysuitdeling en jaarafsluiting by die skousaal gehou. Met die voorsitter, Pieter van Deventer se verslag tydens die toesprake, het hy genoem dat dié klub vir die derde opeenvolgende jaar as die beste Jerseyklub in Suid-Afrika benoem is.
Van Deventer is vroeër vanjaar gekies om die Afrika kontinent se Jerseyboere te verteenwoordig in Colombus, Ohio, Amerika. Hiervoor het die klub ook aan hom 'n erepenning van verdienstelikheid oorhandig.
Koei nommer 13013 van Doornvlei het weggestap met die prys as algehele beste koei en algehele beste uier.
Pryse is toegeken vir verskillende kategorieë, maar die volgende top-5-kuddes het met die meeste pryse weggestap:
- Doornvlei (Pieter van Deventer);
- Kluitjieskraal (Arno Schoonwinkel);
- Solderskraal (Altus Brooks)
- Kadie (Hans-Jurie Uys) en
- Huwil (Heinrich Oosthuizen).
Om die topvyf te kon behaal het baie harde werk gekos en hierdie manne verteenwoordig hulle plase met 'n breë bors: Van links is Pieter van Deventer, Arno Schoonwinkel, Altus Brooks, Hans-Jurie Uys en Heinrich Oosthuizen. INLAS: Komiteelid Smiley Cronjé oorhandig die erepenning van verdienstelikheid aan Pieter van Deventer.
Lees 'n vorige artikel hier: Jersey-beoordeling in die reën
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'