STILBAAI NUUS - Die Just Wheels Ou Kar-groep het Saterdag, 9 Mei, met hulle pragtige ou motors by Lappiesbaai in Stilbaai gespog.
Die groep reël jaarliks 'n saamtrek in Jongensfontein waar hulle lekker saamkuier en natuurlik idees en stories oor hul geliefde voertuie uitruil.
Daar was motors van onder meer Kaapstad, Mosselbaai, Hopefield, Calitzdorp, Riversdal en natuurlik Stilbaai te sien. Volgens die organiseerders, Hugo van Dyk, Gavin Joyce en Francois Prinsloo, het die gure weer van die afgelope week 'n kleiner opkoms as verlede jaar tot gevolg gehad, maar die 30 motors wat opgedaag het, het steeds groot belangstelling gelok.
Charles Erickson van Calitzdorp het met sy Peugeot 404 plaasbakkie, wat nog daagliks in gebruik is, opgedaag.
Tussendeur 'n smaaklike ontbyt by Die Seekombuis by Lappiesbaai het motorentoesiaste die geleentheid gehad om meer oor die voertuie te leer en vrae aan die trotse eienaars te stel.
Die naweek is Saterdagaand met 'n gesellige byeenkoms by die Jongensfontein-karavaanpark afgesluit.
Mense wat meer oor die Just Wheels-groep wil weet, kan Hugo van Dyk by 083 686 9237 kontak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’