STILBAAI NUUS - Hessequa se biblioteke bied gedurende die skoolvakansie 'n opwindende program aan vir kinders, met 'n verskeidenheid aktiwiteite wat kreatiwiteit, spel en leesbevordering aanmoedig.
By die Stilbaai-biblioteek het die vakansieprogram reeds afgeskop met 'n gewilde rotsverfsessie op Donderdag 2 Julie, gevolg deur 'n gesellige oupa-en-ouma-storieoggend op Dinsdag 7 Julie.
Die pret duur egter voort. Op Donderdag 9 Julie kan jong deelnemers hul skaakvernuf toets, terwyl 'n spanningsvolle skattejag vir Dinsdag 14 Julie beplan word. Die program word op Donderdag 16 Julie met 'n gewilde slymmaaksessie afgesluit.
Die Stilbaai-program is gemik op kinders tussen vyf en tien jaar oud.
Alle aktiwiteite vind van 10:00 tot 10:45 plaas. Omdat plekke beperk is, is voorafbespreking noodsaaklik. Belangstellendes kan Miché Moos by 028 713 7839 kontak om 'n plek te bespreek.

Die vakansieprogramme verskil van biblioteek tot biblioteek. Inwoners word daarom aangemoedig om hul plaaslike biblioteek te besoek en uit te vind watter aktiwiteite in hul gemeenskap aangebied word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’