STILBAAI NUUS - Die Winter Wonderland-konsert in die gemeenskapsaal Saterdagaand, 11 April, was 'n ware toonvenster van die Stilbaai-gemeenskap se talle verborge talente.
Johan en Mariqi Erasmus het plaaslike talent tuis laat voel op die groot verhoog, met pragtige sangnommers en modelle wat Stilbaai-besighede se klerereekse vertoon het.
Hulle bied in September 'n groot Stilbaai Skouspel aan, en hierdie Winter Wonderland-konsert was deels ter voorbereiding, maar ook 'n fondsinsameling om die stel en dekor vir die skouspel te bou.
Eers het Stilbaai sy sangtalent uitgestal met tien pragtige liedere. Pieter Matthee en Xenny Yazbek het weggespring met Oh what a beautiful morning, en daarna was die gort gaar.
Selfs Mariqi, beter bekend vir haar skilderwerk, het die verhoog betree en 'n duet saam met Deona Aucamp gesing.
Daarna het die pragtige modelle, onder leiding van Nicky van der Westhuizen, die loopplank hul eie gemaak en Allegaartjie, Out of the Blue, Thrift and Drift, Flentertjies, Anna's Boutique en Jantzi's Designs se klere vertoon.
Te gou het die aand tot 'n einde gekom, maar Mariqi en Johan Erasmus het belowe dat die skouspel later vanjaar, in September, veel groter en nóg meer opwindend gaan wees.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’