STILBAAI NUUS - Amateurkunstenaars wat tydens die Inter-provinsiale Allegretto Eisteddfod in Mei in Stilbaai na die nasionale kompetisie deurgedring het, kry Maandag, 10 Augustus, die geleentheid om hul staal te wys.
Die nasionale kompetisie vind weer in die Stilbaai-gemeenskapsaal plaas, waar ervare beoordelaars die deelnemers se verskillende items sal evalueer. Benewens die beoordeling deel die beoordelaars ook hul kennis en ervaring met die deelnemers om hulle verder in hul onderskeie kunsvorme te ontwikkel.
Deelnemers wissel van kinders so jonk as vyf jaar tot leerders in gr. 12. Heelwat Stilbaai-deelnemers het tydens die Inter-provinsiale ronde uitstekend gevaar en hul plek in Maandag se kompetisie bespreek.
'n Wye verskeidenheid kunsvorme word aangebied, waaronder dans, drama, musiek, fotografie, kuns en modelwerk, asook talle ander items.
Marius Lourens, hoof van die Allegretto Eisteddfod, was tydens die Inter-provinsiale kompetisie in Mei baie beïndruk met die besonder hoë standaard van die deelnemers. Met die beste deelnemers uit die verskillende streke wat Maandag saamkom, beloof die nasionale ronde om verdere puik vertonings te lewer.
Belangstellendes is welkom om die kompetisie by te woon. Kaartjies sal by die deur beskikbaar wees.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’