STILBAAI NUUS - Woorde in ink waai op blaaie oor Stilbaai se kaai en word boeke, gesigte en stemme in die gemeenskapsaal.
Dié skilderagtige kusdorpie se derde boekefees word die naweek van 23 tot 25 Februarie aangebied.
Die liefhebbers van boeke kry hier die geleentheid om na besprekings oor ‘n aantal skrywers se boeke te luister en die woordsmede te ontmoet.
Op die Vrydagoggend-spyskaart, naas boeke, is ‘n olyfolie-proesessie en oestafel-ete by Hennie en Suna Volschenk se Kleinbergskloof Restaurant aan die oewer van die prentjiemooi Goukourivier. Halfelf gesels Ingrid Jones met die kosskrywer Ilse van der Merwe oor haar jongste smulboek, Easy Al Fresco.
Tussen die hoogtepunte is ‘n sit-en-luister-aanbieding waartydens die digters Antjie Krog (Plunder), Bibi Slippers (Soekenjin) en Tom Dreyer (Nou in infrarooi) hul verse die middag halfvyf voorlees.
Vroeër die middag, drieuur, bespreek die letterkundige Louise Viljoen die bekroonde digter Antjie Krog se jongste bundel Plunder.
Die fees open amptelik sesuur die aand met ‘n kwelvraag wanneer die joernalis en TV-persoonlikheid Waldimar Pelser ‘n onderhoud met die joernaliste Qaanitah Hunter en Adriaan Basson, oor hul boek Who will rule South Africa? voer.
En dan is dit om halfsewe tyd om die dag se gebeurde te herkou terwyl jy aan ‘n bief- of vegetariese burger smul en ‘n drankie by die kontantkroeg geniet.
Saterdagoggend, ná nóg ‘n ontbyt, word jy op jou nugter maag getrakteer met Elna van der Merwe se gesprek oor liefde, erotika en misdaad met die skrywers Elsa Winckler en Erla Diedericks.
Dan, om tienuur, is dit die joernalis Wicus Pretorius se beurt om die skrywers Chris Karsten (Op pad na Moormansgat) en Irna van Zyl (Kwaaiwater) oor hul jongste topverkopers in die misdaadfiksie-genre pols.
Om halftwaalf gesels die aktrise Susanne Beyers met die skrywers Morné Malan (Minder as water) en Nicole Jaekel Strauss (Deelfontein) oor hul jongste boeke.
Ná middagete val die fokus op werklike misdaad wanner die TV-persoonlikheid Kabous Meiring tweeuur die middag saam met die skrywers Daniel Steyn en Julian Jansen die opspraakwekkende ontsnapping van die veroordeelde moordenaar en verkragter Thabo Bester takel.
Drieuur die middag vra die akademikus Louise Viljoen die bekroonde skrywer SJ Naudé uit oor sy tema van moderne wêreldvervreemding in sy jongste roman, Van vaders en vlugtelinge.
Daarna sluit die mediapersoonlikheid Ingrid Jones, die skrywer Bettina Wyngaard en die akademikus Christi van der Westhuizen die program met dié tergende vraag af: Rassisme in “veilige ruimtes”: een tree vorentoe, twee terug?
Sondagoggend kan feesgangers sowat agt kilometer saam met Nico Steenekamp op Stilbaai se skilderagtige stappaadjies loop.
Rig navra by stilboeke@gmail.com en bespreek by Quiket.co.za.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’