STILBAAI - Op Donderdag 11 Mei sal Stilbaaiers vanaf 18:30 'n uitsonderlike geleentheid in die plaaslike gemeenskapsaal kan beleef: koormusiek deur die Stilbaai Sangers uit musiekblyspele soos The Sound of Music, Oklahoma, Cats, Mama Mia, Paint your Wagon, West Side Story en Phantom of the Opera.
Die Stilbaai Sangers is in September 2021 gestig en bestaan uit drie kore. Alhoewel die Stilbaai Mannekoor reeds hul tiende bestaansjaar gevier het, maak dié koor sedertdien saam met die Disa Dameskoor en die Seisoene Sangers, wat uit sowel mans as dames saamgestel is, die Stilbaai Sangers uit.
Verskeie optredes het reeds plaasgevind en telkens vol sale getrek.
Geen kaartjies word vir enige optrede verkoop nie, maar gehore word gevra vir 'n vrywillige sagte-kollekte.
Nadat alle onkostes verhaal is (byvoorbeeld vir die huur van die saal) word die balans van geld wat ingesamel word in totaliteit aan verskeie gemeenskapsorganisasies in Stilbaai en omgewing geskenk.
Sedert die ontstaan van die Stilbaai Sangers is reeds bykans R80 000 aan organisasies soos Huis Stilbaai, Bertie Barnard se Hartliefklas, Jagersbosch, Badisa, Ouma Lena se Huis, Stillerus/Soeterus en die Stilbaai-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) geskenk.
Om deel te wees van enige van die drie kore is voorwaar sielsverrykend en beslis aangenaam.
Enigeen wat belangstel om aan te sluit by enige van dié drie kore kan die voorsitter van die Stilbaai Sangers, Mike Steytler, by 028 754 1181 kontak of e-pos stuur na mikesteytler@lantic.net.
'n Anonieme skrywer het gesê: "There's no denying the power of music. It can make us smile or cry. It inspires us to dance and move. It connects us and is the soundtrack to many important moments in our lives."
Kom luister gerus hoe die kore jou met hul koorsang gaan betower en bring jou vriende saam vir 'n onvergeetlike aand.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’