VERMAAK NUUS - Om die groot mylpaal van die Bush Lapa Musiekfees se 10de verjaarsdag behoorlik te vier, vul Herold's Bay Resort-eienaar KD Fourie die Bush Lapa-verhoog hierdie Desember met die room van die Afrikaanse musiekbedryf.
Die feesprogram loop van 20 tot 31 Desember met feitlik elke dag een van die land se topkunstenaars wat vermaak uit die boonste rakke beloof.
Chris Chameleon
Chris Chameleon-aanhangers kan op Vrydag 22 Desember sy jongste vertoning beleef waarmee hy tans deur die land reis om sy nuutste album, Jy en Ek en Ek en Jy, bekend te stel.
Chameleon het ses jaar laas 'n volkome selfgeskrewe Afrikaanse album vrygestel. Met die bekendstelling van die langverwagte Jy en Ek en Ek en Jy, kan aanhangers uiteindelik asem uitblaas.
Die album is musikaal en liries sy mees avontuurlustige ooit.
Die klem val op hierdie nuwe baanbrekerswerk waarin Chameleon opnuut weer die grense van klank, woord en sang in Afrikaans uitdaag en verskuif.
Maar gehore kan natuurlik ook uitsien na 'n keurspel van die treffers wat van hom deur die jare 'n huishoudelike naam gemaak het.
Indien jy self so 'n Chris Chameleon-lied het wat jy wil hoor, is daar goeie nuus vir jou: hy gee die gehoor altyd 'n geleentheid om hom te probeer vasvra met sy eie werk!
Francois van Coke
Francois van Coke, wat sy buiging op Donderdag 28 Desember by die Bush Lapa Musiekfees maak, het naam gemaak as die ikoniese voorsanger van die legendariese rockgroepe Fokofpolisiekar en Van Coke Kartel.
Sy debuutalbum is in 2015 bekendgestel met die vrystelling van die aangrypendste ballade van die jaar, Toe vind ek jou met Karen Zoid.
Rekords het vinnig begin breek.
Dit was die eerste Suid-Afrikaanse en Afrikaanse enkelsnit en album wat tegelykertyd die nommer 1-posisies op iTunes se Top 40-treffersparade gehaal het en die liedjie het sodoende ook Platinumstatus bereik deur meer as 20 000 keer afgelaai te word.
Die Toe vind ek jou-musiekvideo is binne ses maande oor 'n miljoen keer op YouTube gekyk, en is aangewys as die grootste Afrikaanse musiekvideo van 2015.
Dié debuutalbum het vyf Ghoema-toekennings, drie Sama-nominasies, drie Huisgenoot Tempo-nominasies, 'n OFM Golden Note-toekenning, 'n Silwer Pendoring-toekenning en twee Afrima-nominasies ingepalm.
Met talle nommer 1's op radiostasies, massiewe mediadekking en gereelde uitverkoopte vertonings, het Francois se sololoopbaan met wegholsukses afgeskop en die weg gebaan vir die vrystelling van sy tweede solo-album,
Hierdie is die lewe, in Februarie vanjaar.
Dit is met groot opgewondenheid en lof ontvang. Dit het op iTunes se nommer 1-posisie afgeskop, het vir 'n week daar gebly en was vir vyf weke op die Top-10.
Dit was vir vyf weke op die SA Top-20 wat op albumverkope gebaseer is en was vir drie aaneenlopende weke in die toptwee posisies op Pretoria FM se treffersparade vir Afrikaanse topverkopers volgens Musica se verkoopsyfers.
Francois van Coke se aanhangers moet spring om hul kaartjies te koop vir sy vertoning op 28 Desember by die Bush Lapa Musiekfees.
Van Coke se tweede enkelsnit, Dit raak beter is op 45 radiostasies regoor die land gespeel sedert dit in Februarie vrygestel is.
Die eerste enkelsnit, Mensdom het op drie radiostasies nommer 1 bereik en die musiekvideo was nommer 1 op kykNET se Top-20 vir drie weke in 'n ry.
Nog 'n gunsteling van die album is die aangrypende Die wêreld is mal wat op 38 radiostasies gespeel is.
Van Coke het die Wes-Kaapse Bokkies 2017 se toekenning vir sanger van die jaar ontvang en is genomineer as musiekvideo van die jaar by die Tempo's 2017.
Sy vertoningshoogtepunte vir 2017 sluit in optredes by Melkweg in Amsterdam in Nederland, Oppikoppi en Jacaranda Day 2017.
Sy aan-hangers moet spring om kaartjies te bekom vir sy vertoning in die intieme atmosfeer van die Bush Lapa.
Arno Carstens
Op Dinsdag 26 Desember gaan die platinumkunstenaar en liedjieskrywer Arno Carstens se aanhangers die tafels in die Bush Lapa toepak.
Carstens het al 13 albums vrygestel, vyf as hoofsanger van Springbok Nude Girls, ses as solokunstenaar, een as deel van 'n Elektronika-projek Bhelltower en in 2016 sy eerste Afrikaans solo-album, Die Aandblom 13, 'n alternatiewe meesterstuk.
Carstens spog met meer as 20 Top-10-treffers en vyf Sama-toekennings insluitende Beste Rock-album in 2004 vir Another universe en Beste Volwasse Kontemporêre Album in 2006 vir The Hello Goodbye Boys.
Deur die loop van sy 20 jaar in die musiekbedryf, het Carstens die verhoog gedeel met van die grootste name in internasionale musiek, waaronder U2, The Rolling Stones en REM.
Hy het by al ons land se grootste musiekfeeste opgetree en was al hoofkunstenaar by elke groot musiekfees in Suid-Afrika.
Van die bekende internasionale musiekfeeste waar hy die buiging gemaak het, sluit in Isle of Wight, Glastonbury, V Festival en Hard Rock Calling. Carstens is ook 'n meester as dit kom by skilderkuns.
Sy 2014-vrystelling van Lightning Prevails se albumomslag was een van sy oorspronklike skilderwerke wat hy vir sy 2006-kunsuitstalling geverf het.
Sy optredes bestaan uit treffers van sy Springbok Nude Girls-dae asook sy geliefde treffers as 'n platinum-solokunstenaar.
Arno Carstens is op 26 Desember op die verhoog by die Bush Lapa.
Die nuutste toevoeging tot sy vertonings is werke van sy bekroonde eerste Afrikaanse album, Die Aandblom 13.
Hy het 'n Bok Radio-toekenning vir liedjie van die jaar in 2016 gewen met sy treffer Ontwaak.
Die video is ook al meer as 115 000 keer op YouTube gekyk.
Kaartjies
Die Bush Lapa en sy musiekfees word beskou as die tuiste van musiek in die Suid-Kaap en is iets waarop George trots kan wees.
Dit is 'n opwindende plek om te wees vir enige Afrikaanse musiekliefhebber.
Die venue is gesellig en gaste sit en kuier saam met hulle families by tafels naby aan die verhoog.
Smaaklike potjiekos en ander etes kan geniet word.
Kaartjies wissel van R60 tot 180 en is beskikbaar by www.webtickets.co.za. Besoek heroldsbayresort.co.za vir meer inligting of bel KD by Herold's Bay Resort by 044 851 0113 of stuur 'n e-pos na marketing@heroldsbayresort.co.za.
Hou volgende week se uitgawe van die George Herald dop vir meer inligting oor die ander bederf-vertonings wat voorlê.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'