Jade en Gregory Noble het op Werkersdag voor 'n groot skare gesing en die mense het dit baie geniet.
Die jong dame wat al haar hele lewe lank sing se droom het waar geword. Jade, tans nog 'n leerder by Hoërskool Albertinia, kan amper nie glo dat haar kans uiteindelik aangebreek het om haar vlerke te sprei nie. Dit is alles te danke aan Steven Richards, 'n musiekvervaardiger van Nothingham, Engeland. Hy het twee jaar gelede vir Jade belowe dat hy haar oorsee sal neem om haar musiek verder te neem, en hy het sy belofte nagekom en ook 'n musiekkontrak saamgebring wat sy moes onderteken.
Haar ouers, pa John, wat self 'n musikant is, het haar baie gehelp om die groot mylpaal te bereik. Mirjite, soos almal hom ken, het ook al saam met sy dogter opgetree en hy het gesê sy dogter verdien die kans en was baie emosioneel oor die aangeleentheid. Haar ma, Dene, het gesê sy is baie trots op Jade en haar sterkte toegewens met haar toekomstige mu-siekloopbaan. Jade het al by verskeie konserte en sangkompetisies opgetree.
Gregory Noble, wat dikwels saam met haar opgetree het, is aangestel as haar bestuurder en is baie in sy skik met die geleentheid wat Jade gekry het.
Vir die jongmeisie van Albertinia is daar nog net 'n paar maande oor voor sy in September na Engeland vertrek.
Tydens die ondertekening van die musiekkontrak is van links Steven Richards, Gregory Noble, Jade en haar trotse ouers.
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'