Gallery Update
HEIDELBERG NUUS - Die onlangse Heidelberg Landbouskou wat op 4 Februarie met 'n skoudans afgeskop het, was 'n bewys dat die gemeenskap uitgehonger is vir normale aktiwiteite soos voor die Covid-19-pandemie, wat hopelik nou in sy doodsnikke is.
"Die tema van die dans was Wild Safari en daar was nie plek vir 'n muis nie," vertel Sarah Koch, skousekretaris.
"Ook met die skou self wat vanaf 9 tot 12 Februarie aangebied was, het ons baie meer toeskouers gekry as wat verwag was. Almal was lus vir die skou en alle verwagtinge is oortref."
Hoewel hulle minder aansoeke vir die stalletjies gekry het as in die verlede, skryf sy dit daaraan toe dat van die entrepreneurs wat voorheen stalletjies gehad het, waarskynlik as gevolg van die pandemie nie kon voortgaan nie of dat stalletjie-eienaars dalk bang was dat daar nie genoeg voete sou wees nie.
"Diegene wat wel daar was, het genoem dat hulle baie goed gedoen het, veral die eet- en kindervermaakstalletjies het gesê dat 2022 nog hulle beste jaar op Heidelberg ooit was."
Meer honde was vir die hondeskou ingeskryf as in 2020 en dit was baie gewild.
"Saterdag was die groot dag met die Hollard Jeugskou en dit het vir 'n baie groot opkoms van toeskouers en kinders gesorg, wat dit baie geniet het ten spyte van die hitte," het Hans-Jurie Uys, ondervoorsitter gesê en bygevoeg dat as gevolg van die goeie bywoning, hulle die beste hekgetalle en -inkomste nóg gehad het.
Volgens haar was die ontbyt met Pietman Geldenhuys volgepak en so ook die Affodille-boereorkes, bestaande uit vrouemusikante waarmee die skou Saterdagaand afgesluit is.
"Die skaapafdeling het 'n hoogs suksesvolle slaglamkompetisie gehou, asook die merino-veldstoet- en kudde-streekskou," het die skoupresident, Vic Brand gesê.
LEES MEER EN SIEN VIDEO'S: Heidelberg-Skou lok hordes
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'