Trompoppies en verteenwoordigers van verskeie plaaslike skole met hul vlae, 'n paar ruiters en veteraanmotors het op maat van 'n 'brass band' se musiek aan die optog deelgeneem wat inwoners uit hul huise en besighede gelok het om die pragtige skouspel te aanskou.
'n Donateursfunksie het die fees die vorige aand voorafgegaan en was in die skousaal gehou, waar die blommeskou ook plaasgevind het. Die doel van die fees was hoofsaaklik om die Hessequa gebied aan die breër publiek bekend te stel en om die gemeenskap gebaseerde organisasies daaruit voordeel te laat trek. DROOM, die plaaslike tehuis vir bejaardes, is die hoof begunstigde wat voordeel uit die fees sal trek.
'n Konserwatiewe benadering was gevolg met gevestigde projekte, naamblik 'n blommeskou, perde plesierrit en bergfietswedren. Die blommeskou wat blomme vanuit die Hessequa gebied verteenwoordig het, was asemrowend mooi en het besoekers behoorlik na hul asem laat snak. Daar was ook verskeie stalletjies wat onder meer 'n wyn- en kaasproe, olywe, skildery-uitstalling, 'n verskeidenheid van eet- en drinkgoed, speelgoed, 'n poppekas, klein perdjies, springkasteel, teetuin en steakhouse.
Plaaslike sangers en musikante het tussendeur opgetree om 'n gesellige atmosfeer te skep. Die AI-2 Hez fietsren het Saterdagoggend plaasgevind, met Vickus Boshoff wat 'n eerste plek in die 91km behaal het en Leendert Cronjé in die 44km-afstand. Rozanne Schreiber was die eerste dame oor die wenstreep en het 'n algehele 15de plek verower. Kort na die fietsren het ongeveer 40 perderuiters 'n 35km rit deur die pragtige natuur na die Garciabos en terug onderneem.
SIEN NOG FOTO'S HIER.

Die trompoppies van Voorwaarts Primêr (junior en senior) en Panorama Primêr het aan die optog deelgeneem. Laerskool Ladismith se trompoppies het by die skougronde by hulle aangesluit.

Chris Veldsman (voorsitter: HANF), Piet Willemse (Jireh Foods), dr. Joan Prins (gasspreker en raadslid wyk 3) en Johan Willemse (Jireh Foods) tydens die Donateursfunksie op Donderdag, 6 September. Jireh Foods was die hoofborg van die fees. Foto's: Elize Blom en Wilma Adamson.
ARTIKEL: WILMA ADAMSON