Die doel van die projek is om jongmense wat in drama belangstel, te bemagtig met tegnieke en vaardighede. Sedert 2007 is meer as 1000 leerders en jongmense deur middel hiervan in die Hessequa, Kannaland asook Swellendam opgelei.
Volgens me. Annelene Hartnick, Kairos dramagroep voorsitter, is die projek se doelwit om 'n platform aan jongmense te bied om hul talente en be-
langstelling te laat ontdek. Die opdrag van die departement van kultuursake aan die dramagroep vir 2012/13 is om 40 jongmense in dramategnieke en -vaardighede op te lei, om gehoorontwikkeling te doen en om 20 jongmense in puppetry in samewerking met UNIMA op te lei.
Hartnick noem ook dat vyf Hessequa dorpe in die huidige projek betrek word, naamlik Albertinia, Heidelberg, Melkhoutfontein, Ri-
versdal en Slangrivier. Produksies sal deur elke groep geskryf en ontwikkel word. Opleiding sal deur middel van werkswinkels op Heidelberg plaasvind. Repetisies onder leiding van William (Willy) Michaels sal gedurende die week op die verskillende dorpe met die groepe gedoen word. Op Mense-regtedag, 21 Maart vind die gala geleentheid plaas waar die vyf produksies voor 'n gehoor opgevoer sal word.
"Ons dank aan die departement van kultuursake vir hul volgehoue ondersteuning om nog dramatalent hier in ons streek te ontdek en ontwikkel, soos hul voorgangers, die bekende akteurs Christo Davids en Theodore Jantjies (onderskeidelik Errol en Xander van 7de Laan), Maurice Paige (Calvin van Isidingo) asook Willy Michaels, wie se ster nou helder skyn as Tjopper in die Kyknet reeks 'Liefste Kayla'," sluit sy trots af.

Die groep leerders en jongmense vanoor die Hessequastreek het Saterdag 'n opleidingsessie by Kairos Senior Sekondêre Skool bygewoon wat deur die Kairos dramagroep aangebied is. Die opleiding het onder die waaksame oog van Annelene Hartnick, voorsitter en Willy Michaels (beide heel links) plaasgevind. Foto's: Clive Pretorius