STILBAAI NUUS - Die digkuns gister (Vrydag 23 Februarie) by Stilbaai se derde boekefees was die algehele feeshoogtepunt.
Die akademikus Louise Viljoen het die bekroonde digter Antjie Krog se opspraakwekkende oeuvre ontleed en haar jongste bundel, Plunder, in perspektief geplaas.
Daarna het die digters Bibi Slippers (Soekenjin) en Tom Dreyer (Infrarooi) van hul uiteenlopende verse in 'n voorprogram vir Krog voorgelees.
En toe is dit haar beurt! Sy het die feesgangers soos 'n bekwame aktrise geboei, geskok, laat skater, gepor en bepeins.
Sy het uit verskeie van haar bundels voorgelees en het nie geskroom om reguit te wees nie.
Met gemotiveerde kruheid, uitbundige oorgawe en sorgelose grense het sy die gehoor oorrompel met haar nimmereindigende kreatiwiteit.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’