STILBAAI NUUS - Stilbaai se gewilde Christmas in July keer vanjaar terug vir sy 10de aanbieding en beloof om op Vrydagaand, 3 Julie, die middedorp weer in 'n feestelike winterwonderland te omskep.
Van 17:00 tot 20:00 sal Voortrekkerstraat vir verkeer gesluit wees en slegs voetgangers sal toegang hê, wat die besoekers die geleentheid gee om die unieke Kersfees-atmosfeer in die hart van die dorp te geniet.
Die straat sal versier word met sneeu en Kersfeesdekor, terwyl Kersvader ook sy opwagting maak. Musiekliefhebbers kan uitsien na optredes deur Robert Bolton, wat van sy gewildste liedjies gaan sing en vir ekstra feestelikheid sal sorg.
Besoekers word genooi om saam met familie en vriende 'n gesellige wintersaand te geniet met musiek, heerlike kos, wyn en talle stalletjies. Van smaaklike straatkos tot handgemaakte kunswerke en unieke geskenkidees sal daar iets vir elke smaak wees.
Sedert die eerste Christmas in July-byeenkoms het die geleentheid jaarliks gegroei en gevestig geraak as een van Stilbaai se gewildste winteraantreklikhede. Vanjaar se 10de viering beloof om groter en beter as ooit te wees en sal ongetwyfeld weer inwoners en besoekers van oral lok.
Organiseerders moedig die publiek aan om warm aan te trek en saam te kom kuier vir 'n aand van winterpret, gemeenskapsgees en Kersfees-vrolikheid in die middel van die jaar.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’