“Na verlede jaar se uiters suksesvolle fees en terugvoer van feesgangers, het ons besluit om van die gunstelinge op die program van verlede jaar, terug te bring in nuwe, opwindende kombinasies, waaronder die Charl du Plessis-trio, die vokale ensemble van die Kaapstad Operakoor en die US Simfonie-orkes”, sê Rhodé Snyman, uitvoerende hoof van Kunste Onbeperk, die aanbieder van Klein Karoo Klassique.
Die hoogtepunt van vanjaar se Klassique is die Mimi Coertse Galakonsert: Ons Gaan Groot (Saterdag, 15 Aug.) met Magdalene Minnaar (sopraan), Sipho Fubesi (tenoor), die Vokale Ensemble van die Kaapstad Operakoor o.l.v. Marvin Kernelle en die US Simfonie-orkes o.l.v. Corvin Matei. Die passie en drama van opera kom na vore in hierdie vertolking van wêreldbekende musiek soos die Nessun Dorma uit Puccini se Turandot en die manjifieke vokale kwartet, Bella figlia dell’amore.
Suid-Afrika se voorste Steinway-kunstenaar, Charl du Plessis, verwerk die meesterlike musiek van Mozart in sy unieke styl en neem die gehoor met Eine Kleine Jazzmusik (Vrydag, 14 Aug.) op ’n opwindende jazz-reis. Saam met Du Plessis op die verhoog is Magdalene Minnaar (sopraan), Musanete Sakupwanya (tenoor), Werner Spies (kontrabas), Hugo Radyn (tromme) en die Evolution of 4 strykkwartet.
Suid-Afrika in Refrein met die Suid-Kaap Kinderkoor, o.l.v. Jan-Erik Swart, in samewerking met Jannie Moolman (tenoor) en Loveline Madumo (sopraan), sluit Klassique 2015 af met ’n unieke program van geliefde, inspirerende, eg Suid-Afrikaanse teks en komposisies, waaronder die hartroerende Magaliesbergse Aandlied.
Jan Hugo, bekroonde pianis en boorling van Bloemfontein, wat reeds sedert die ouderdom van 13 musiek in Italië studeer, deel Sondag, 16 Augustus sy passie vir romantiese musiek, met onder andere musiek van die gewilde Chopin in Romantiese reise deur die 19de Eeu.
Musiek van twee kwartette kan gehoor word, met die Amici-strykkwartet van Kaapstad wat in Sielsnare ’n uitvoering van boeiende en uiteenlopende werke van ondermeer Mozart, Hendrik Hofmeyr en Dvorák gaan lewer (Vrydag, 14 Aug.) en die Evolution of 4 strykkwartet van Pretoria wat met Vanaf Wene na die Karoo en Terug (Saterdag, 15 Aug.) die gehoor op ’n musikale reis na kontrasterende wêrelde neem met musiek van Beethoven, Van Wyk en Schubert.
In Romantiese Sonates (Saterdag, 15 Aug.) speel Anmari van der Westhuizen (tjello) en Ilse Schumann (klavier) meesleurende musiek van Chopin, Grieg en Kreisler. Van der Westhuizen en Schumann, wat albei op Stellenbosch grootgeword het, het in Wene vir die eerste keer saam opgetree en sedertdien ’n musikale aanvoeling vir mekaar ontwikkel.
Klassique open met die ATKV Openingskonsert (Donderdag, 13 Aug.), ’n uitvoering deur die eerste buitelandse wenner van ’n ATKV klassieke musiekkompetisie, Polina Burdukova (tjello), saam met die mees-onlangse wenners van die ATKV se kompetisies vir sangers en instrumentaliste, Johannes Slabbert (bariton) en Willem de Beer (klavier), in ’n aand van ligte klassieke werke uit bekende musiekspele én ietsie in Afrikaans.
Plaaslike pianis, Sulayman Human, is twee keer tydens die fees te sien. Hy en Visser Liebenberg (klarinet) lewer ’n program met musiek van Saint-Saëns tot Brahms (Vrydag, 14 Aug.), waarmee Human beoog om fondse in te samel om sy doktorsgraad in Amerika te voltooi. Op Saterdag, 15 Augustus tree Human vir die eerste keer saam met sy klavieronderwyser, John Theodore in Kykie, dis Klassiek op. Hierdie uitvoering, waarin lede van ’n UCC-koor ook te sien sal wees, stel Oudtshoorn se klassieke musiektalent ten toon, in drie kort uitvoerings met ’n program van roerende kerkmusiek in ’n baie unieke omgewing.
“Die bekostigbaarheid van Klassique is vir ons ’n top-prioriteit en daarom is kaartjiepryse laag en bied ons vanjaar weer ’n spesiale afslag kaartjiepakket aan, vir diegene wat elke noot by die fees wil beleef,” vertel sy. Dié pakket, wat ’n kaartjie na ál tien uitvoerings insluit, kos R600, wat ’n besparing van R400 bied. “Die billike kaartjiepryse (gemiddeld R100 per vertoning) en die spesiale afslagpakket is moontlik danksy die finansiële steun van die Rupert Musiekstigting,” sê Snyman.
Volgens Snyman is daar ook opnuut na die venues vir Klassique gekyk. “Ons gebruik vanjaar die NGK Park vir meeste van die uitvoerings, na versoeke van feesgangers vir ’n venue met verbeterde siglyne.”
Feesgangers kan hul musiek-ervaring aanvul met smul-etes by ’n verskeidenheid restaurante en koffiewinkels op die dorp, deur die omgewing se top wyne te proe en by die dorp se galerye in te loer vir uitstallings deur die vele kunstenaars wat hier woon.