STILBAAI NUUS - Lede van Stilbaai VLV het tydens hul maandvergadering op 9 Junie hul ondersteuning aan die Gee Hoop-sopkombuis in Melkhoutfontein getoon deur 'n insameling van droë sopbestanddele te hou.
Die skenking sal bydra om die sopkombuis se daaglikse werk voort te sit. Gee Hoop voorsien Dinsdae en Vrydae, indien moontlik, gratis maaltye aan behoeftige inwoners van Melkhoutfontein en speel sodoende 'n belangrike rol om voedselsekerheid in die gemeenskap te verlig.
Benewens die sopkombuis het Gee Hoop ook 'n groentetuin waarmee hulle poog om meer selfonderhoudend te wees. Die vraag na hulp bly egter groot, en daarom is skenkings van voedsel, bestanddele en ander benodigdhede altyd welkom.
Die VLV se inisiatief is nog 'n voorbeeld van hoe plaaslike organisasies saamwerk om 'n verskil in die gemeenskap te maak en hoop te bring waar dit die nodigste is.
Persone wat 'n bydrae wil lewer of meer inligting benodig, kan Henry Philander by 076 875 0404 kontak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’