STILBAAI NUUS - Die omgee-gemeenskap van Stilbaai het die afgelope week gewys dat elke hand 'n verskil kan maak toe vrywilligers tyd afgestaan het om rommel langs die Goukourivier en op die kuslyn tussen Stilbaai en Jongensfontein op te tel.
Woensdag 16 September, op Internasionale Rivierskoonmaakdag, het personeel en leerders van Paideia Inclusive Education Centre saam met ander vrywilligers die oewers van die Goukourivier aangepak.
Die 30 vrywilligers het binne 'n kort tyd 51 sakke rommel opgetel en verwyder.
Saterdag 19 September, Internasionale Strandskoonmaakdag, het nog 40 vrywilligers van Jongensgat tot by Jongensfontein gewerk. Hulle het 'n verdere 50 sakke rommel, asook 'n paar blou plastiekdromme van die strand verwyder.
Die hoeveelheid rommel en plastiek wat jaarliks in riviere en uiteindelik in die oseaan beland, hou 'n ernstige bedreiging vir mariene ekosisteme in. Skoonmaakaksies soos dié help om van die afval uit die natuurlike omgewing te verwyder en bewusmaking oor die probleem te bevorder.
Clifton Donald koördineer die gereelde skoonmaakaksies rondom Stilbaai, maar volgens hom hoef inwoners nie vir 'n georganiseerde skoonmaakdag te wag voordat hulle 'n verskil maak nie.
Plastiek wat in die rivier beland, kan uiteindelik see toe spoel. Die belangrikste stap is om nie rommel te strooi nie, maar dit help ook aansienlik wanneer mense in hul daaglikse lewe rommel optel en weggooi.
'n Klein poging elke dag kan volgens organiseerders 'n groot verskil maak - 'n enkele inkopiesak vol rommel wat daagliks opgetel word, kan oor 'n maand 'n hele vullissak se afval verteenwoordig.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’